Vandag is Vrydag, 25 Junie, 2010. Vir baie beteken dit die einde van ‘n lang week en ‘n naweek van rus wat voorle. Vir ander beteken dit nog ‘n dag vol oorverdowende vuvuzela’s en die ondersteun van hul gunsteling sokkerspan.
In Korea beteken dit vandag, bo al die bogenoemde, die 60e herdenking van die Koreaanse oorlog. Op 25 Junie, 1950 het Noord-Korea die Suide binnegeval en met die hulp van China en die Soviet Unie, verwoesting gesaai oor die hele peninsula. Die Suide het egter steun van die VN ontvang en so het hulle die magte van die Noorde weer teruggedryf tot by die 38e parallel, wat vandag nog een van die gevaarlikste grenssones in die wereld is.
In 1953 was daar na twee jaar se onderhandelings ‘n skietstilstand, maar ‘n vredesooreenkoms tussen die twee Korea’s was nooit onderteken nie wat beteken dat die Noorde en Suide vandag nog, strenggesproke, teen mekaar oorlog maak.
Dis egter nie net die herdenking van die Koreaanse oorlog vir die Koreane nie, maar ook ‘n herdenking van wat hulle as nasie als in die afgelope 60 jaar bereik het. Soos ‘n phoenix het hulle uit die as van die oorlog opgestaan en die land van niks af opgebou tot waar dit vandag is. Ek kan nie help om my te verwonder aan alles wanneer ek deur die eens verwoeste strate van groot stede stap en sien wat als opgerig is in so kort tydjie nie. So asof daar nooit ‘n oorlog was nie. Hier en daar in ou dele van sekere stede is daar egter nog oorblyfsels van die oorlog sigbaar.
Soos almal sekerlik weet loop die spanning op die stadium nog hoog tussen die twee Korea’s as gevolg van die aanval op die Suid-Koreaanse Chonun skip op 26 Maart. Die Suide is egter heel kalm oor die voorval, terwyl die Noorde hulle nog steeds op alle moontlike wyses tart.
Die kans op ‘n volskaalse oorlog, dink ek, is egter uiters skraal, want die Suide het alles om te verloor, maar die Noorde aan die anderkant niks en daarom dan die gedurige aanslae om die Suide te probeer aanhuts. Ek weet regtig nie wat hul idee agter die speletjie is nie en dalk is dit bloot net om te se: “Hey, ons is nog hier en ons is ‘n bedreiging vir alles waaraan julle so hard gewerk het die afgelope 60 jaar.”
(Vir meer detail oor die oorlog, gaan lees gerus by BiB meer daaroor)
Net ‘n paar foto’s van die DMZ (gedemilitariseerde sone op die 38e parallel) hier bo, tussen die Noorde en Suide wat ek ‘n hele ruk terug besoek het asook foto’s van die eens besige POW kamp hier op Geoje eiland, wat nou in ‘n opvoedkundige park omskep is.’ Die park kry heelwat besoekers van alle ouderdomme en ek kon nie help om te wonder wat deur elke man en vrou se kop gaan wat oud genoeg is om dit te moes ervaar nie. Die gesigsuitdrukkings wanneer hulle deur die sale stap vertel egter sy eie hartseer storie.
Oedo is ‘n klein eiland wat deel uitmaak van Geoje, waar ek tans bly. Dis ‘n botaniese tuin wat in die Hallyeo Haesang nasionale park gelee is en mens kan slegs toegang daartoe verkry met ‘n boot vanaf Geoje.
Lee Chang Ho en sy vrou het in 1969 na die eiland toe getrek waar hulle begin het deur sitrus aan te plant en om met varke te boer. Dit het egter misluk en het sy vrou begin om inligting oor botaniese tuine reg oor die wereld te versamel. So het hulle dan begin om die klein eiland in ‘n tuin te omskep wat vandag meer as 3000 plantspesies huisves. Die eiland is ook die eerste wat onder privaatbesit was in Korea en is eers in 1995 vir die publiek oopgestel.
Ongelukkig kan mens nie meer as 90 minute daar spandeer nie, maar dis verseker die moeitewerd om te besoek. Die klassieke musiek wat gespeel word maak mens nog rustiger in hierdie moderne paradys. Daar is ook ‘n klein restaurant waar mens rustig kan sit en ietsie geniet, terwyl jy oor die see uitkyk, maar ons het ongelukkig nie tyd daarvoor gehad nie. Daar is ook ongelooflike beeldhouwerke wat oral vir jou loer, asook ‘n klein kerkie wat uitkyk oor die see en weg van al die mense.
Dis ‘n plek wat ek verseker weer sal besoek, al is dit net om daar koffie te gaan drink
Ek het laas opgehou waar ek op die boot geklim het na Fukuoka…
Die boot word ‘n “jet ferry” genoem en sy naam is die Beetle. As mens die ding vir die eerste keer aanskou wonder mens nogal hoe jy met so klein bootjie die wye see moet invaar na ‘n ander land, maar soos hulle se, “looks can be deceiving”. Die boot is vrek vinnig om die minste te se en mens voel skaars die beweging van die see onder jou, al kan jy die groot duinings deur die venter sien. Sodra die boot die hawe verlaat, word daai enjins op voelspoed gesit en lig die boot heeltemal uit die water, op wat soos stelte lyk en daar gaan jy. Dis die vreemdste ding om te sien. ‘n Boot op 3 stelte!!!
Ek het drie ure later veilig in Fukuoka aangekom en was gegroet deur sneeu wat oral om jou neer stort. Ek moet se, dit was ook baie warmer as die -8C in Busan en ek was nogal verlig daaroor. Vanaf die bootterminaal kon ek ‘n bus na die hotel kry in die stad. Die naaste moltreinstasie was glo te ver om te loop, maar volgens my standaarde, het ek later uitgevind dat dit eintlik naby was. Elk geval, ek het op die bus geklim met die wete dat ek by Hakata stasie moet afklim en synde als in Japannees aangekondig word moes ek mooi luister vir “Hakata”. Die busse werk ook heel agterstevoor in vergelyking met hier in Korea. Hier klim mens voor op by die busdrywer en gooi die busgeld in die houer (mens kry ook kleingeld as jy te veel geld ingooi) en as jy afklim klim jy by die deur in die middel van die bus af. In Japan klim mens weer agter in en vat ‘n kaartjie wat jou busgeld bepaal en as jy wil afklim moet voor by die drywer betaal en afklim EN jy kry glad nie kleingeld nie, so daar het ek ‘n paar waardevolle yenne verloor.
Soos die bus ry verkyk ek my aan die landskap wat besprinkel word met sneeu en ek hoor toe die aankondiging vir Hakata. Die bus het nie lank gery nie en ek het getwyfel of dit die regte plek is en probeer toe die busdrywer vra en die se net ja, dis Hakata. Nadat ek afgeklim het het ek besef dis nie die stasie nie en Hakata is ‘n helse groot gebied en Japan, net soos Korea, het nie juis straatname nie! Teen die tyd was dit ook nou al donker en dis koud en dit sneeu en ek weet nie waar ek is nie. Ek het toe maar aanhou stap en het toe op Gionstasie afgekom of wat ek gedink het Gionstasie is, maar het nie die trein gevat nie, want ek het nog minder lus gehad vir verdwaal ondergrond. Ek het darem geweet dat die volgende stasie wel Hakatastasie is en het maar aanhou stap en wel daar uitgekom. Dit is ‘n massiewe stasie waar die moltreine sowel as die gewone treine deur ry. Ek moes myself eers reg orienteer om te kon uitfigure aan watter kant die hotel is, want om om die stasie te stap was nie ‘n opsie nie. Soos ‘n verdwaalde toeris nou maar lyk het ek die kaart weer uitgeruk en probeer sin maak van waar ek is en waar die hotel is. Genadiglik het ek op die ou einde die hotel gekry nadat ek uitgevind het daar is twee met dieselfde naam. Oulik ne? Ek weet nie hoe dit werk nie.
Uiteindelik in die warm hotel oppad na my kamer. Toe ek die kamer instap het ek op ‘n manier eerder gewens ek was nog buite opsoek, want ek kan nie beskryf hoe klein dit was nie! Die kamer was so breed soos ‘n enkelbed en ‘n deur en langs die bed is daar nog ‘n lessenaar ook ingedruk so mens moet letterlik dwars draai om langs die bed verby te loop. Daar hang ‘n groot gordyn en ek dog toe dis ok, want ten minste is daar ‘n groot venter. Die venster was omstrent 30x50cm groot! Die badkamer het soos een in ‘n vliegtuig gelyk en ek oordryf nie!
Ek het alles net so op my bed neergegooi en toe is ek weer daar uit om iets te gaan eet en om sommer net rond te loop, want ek kan nie die hele aand daar sit nie en al wat op tv was is japannese programme. Ek het toe sommer iets kleins gaan kry om te eet en ‘n paar snacks en ontbyt vir die volgende oggend. Ek het nie eers aan ordentlik eet gedink nie, want dis net te duur om na ‘n restaurant te gaan, veral op ‘n budget soos myne!
Om die tyd om te kry het ek die kaart uitgehaal en gekyk waar ek oral wil gaan en hoe om daar te kom, maar die belangrikste bestemming was die Koreaanse konsullaat en dit was ook my eerste stop die volgende oggend. Wat ek toe ook later uitgevind het is dat die kaart glad nie op skaal is nie en dat die plekke wat ek wou sien nader aan mekaar is as wat ek gedink het, so op die ou einde het ek als gesien wat ek wou en het nog hopeloos te veel tyd op hande gehad. Om terug te gaan hotel toe was nie eers ‘n opsie nie, want dis net te klein en daar is niks om te doen nie.
Fukuoka is die hoofstad van die Fukuoka streek en is gelee aan die Noordelik kusgebied van Kyushu eiland in Japan. Daar word beweer dat Fukuoka die oudste stad in Japan is, omdat dit die naaste stad aan China en Korea is. Hakatabaai in Fukuoka is Japan se konneksie met Korea en China. Hierdie konneksie het egter die aandag van die Mongool Kublai Khan getrek in 1268. Nadat hy reeds die res van Asia geterroriseer het het hy in 1274 die Noordelik deel van Kyushu binnegeval met 900 skepe en 33 000 troepe vanaf Korea. Die aanval was nie geslaagd nie as gevolg van storms en hul onvermoe om dit te hanteer. Na die eerste inval in 1274 het die Japannese samurai ‘n klip muur van 20km gebou al langs die grens van Hakatabaai, wat nou deel van die stad Fukuoka utmaak.
Nadat Kublai Khan vir die soveelste keer probeer onderhandel het met die Japannese en sy voorstelle weereens afgeskiet is het hy weer in 1281 ‘n aanvaal geloots met 140 000 soldate en 4000 skepe. Die Japannese verdedigers van slegs 40 000 was geen match vir die Mongole nie en hulle het binnegeval tot by Dazaifu, 15km Suid van Fukuoka. Die Japannese het hulp van ‘n ander mag gehad wat die Mongole vernietig het en die inval gestop het. Dis hierdie mag wat vandag nog bekend staan as die Kamikaze.
Die moderne stad was eers in 1889 gevorm deur die samesmelting van Hakata en Fukuoka onder die bevel van die daimyo van die Chikuzen provinsie.
Fukuoka is ‘n baie moderne stad met ‘n moltreinstelsel wat eers so onlangs as 2005 in werking getree het. Daar is baie min historiese landmerke wat nog staan en regtig die moeitewerd is om te sien, soos ek uitgevind het. Ek dink as mens Japan rerig wil ervaar is ‘n stad soos Fukuoka nie die eerste plek om te besoek nie, maar as jy cool moderne goed wil sien en koop dan is dit nie te sleg nie. As ek meer tyd en geld gehad het sou ek verseker Hiroshima en Nagasaki wou besoek, want dis ‘n kort treinrit ver.
Die paar plekke wat ek wel besoek het was iets besonders en ek verruil dit vir niks. Selfs die Koreaanse konsullaat was indrukwekkend en groot.
Van daar het ek na die Yahoo Dome toe gestap wat enig in sy soort is. Dit is ‘n baseball stadion met ‘n koepelvormige dak wat oop kan skuif. Ek het nie te veel tyd daar spandeer nie want dit het erg begin sneeu en sneeu is wel ‘n stadige manier om nat te word, maar nie so lekker as jy heeltyd daarin moet loop as die wind ook nog waai nie.
Van daar af het ek aangestap deur ‘n park en oor die rivier wat in die see inloop oppad na die bekende Fukuoka toring. Teen die tyd het dit weer opgehou sneeu en die son het uitgekom en het ek dit oorweeg om in die toring op te gaan omdat dit weer oopgetrek het, maar toe ek uiteindelik by die toring aankom het die wolke weer begin saampak en het ek dit maar gelos en net foto’s van buite geneem.
My volgende stop was Robosquare en ek het vir myself gese al is dit die enigste plek wat ek besoek sal ek tevrede wees. Alhoewel dit nog vroeg was en daar nie veel demonstrasies aan die gang was nie, was dit nog steeds amazing en skokkend om te sien hoeveel die speelgoedjies kos.
AIBO was by verre my gunsteling en hier in die Ooste kan ek dink dat so robotbrakkie amper beter is as die regte ding as mens aan spasie dink. Dit reageer op aanraking en het ook speakers in sy ore en hy reageer op opdragte en voer dit gemaklik uit. Hy kan selfs musiek speel! Ek het net bietjie laat wakkergeskrik om ‘n video van alles te maak, maar ek het darem so klein stukkie vasgevang. Daar is heelwat ander video’s beskikbaar op youtube vir die wat sou belangstel, asook van die Pleo dinosaur.
Nadat ek al die karakters bewonder het het ek al die pad teruggestap na die treinstasie om onder andere Japan se oudste en eerste zentempel te besoek.
Tochoji-tempel is een van die oudste Shingon Buddhiste tempels in Japan en was opgerig deur die bekende Kobo-Daishi monnik in die jaar 806, nadat hy van China af teruggekeur het. Hierdie tempel huisves ook die grootste houtbeeld van Kannon, die godin van genade, in Japan. Konstruksie van die beeld het in 1988 begin en dit het vier jaar geduur om dit te voltooi. Die beeld staan 10.8m hoog en weeg 30 ton. Die ring van lig agter die Buddha is 16.1m hoog met uitbeeldings van Buddha daarop.
Die Rokkakudo is ‘n houtstruktuur op die tempelgronde met roterende boekrakke wat die sutra bevat. Hierdie struktuur was in 1842 opgerig onder die bevel van Bungoya Eizo van Hakata.
Die Tochoji-tempel was eintlik net ‘n bonus, want wat ek eintlik wou sien was die Shofukuji-tempel. Om daar uit te kom moes ek deur ‘n paar smal kronkelstraatjies loop, maar dit was heel maklik om te kry.
Die Shofukuji-tempel offer ‘n plek waar mens kan wegkom van die besige wereld daar buite. Die tempelgronde is massief en het soveel padjies en tuine waardeur mens kan stap. Die feit dat dit so gesneeu het het gesorg dat daar geen ander mense was nie en dit was asof mens teruggestap het in tyd. Daar was nou wel nie groen bome wat nimmereindigende skadu gebied het nie, maar daar was wel ‘n deel wat grasgroen was. Die grond was bedek met mos en dit bly so groen deur die sneeu wat van die bome afdrup as dit smelt. Dit was soos iets uit ‘n sprokie en geen kamera sal dit kan vasvang nie.
Hierdie tempel maak deel uit van die Rinzai sekte van Buddhisme en was in die 12e eeu opgerig deur ‘n priester genaamd Eisai-Myoan. Dit is die oudste en eerste Zen tempel in Japan en Eisai het dit opgerig na sy terugkoms uit China en dis ook hier waar hy groentee vanuit China aan Japan bekend gestel het. Die tempel huisves ook ‘n ou Koreaanse klok en ander histories belangrike items, wat mens ongelukkig nie kan sien nie.
Daar was ‘n ‘n klomp werkers op die perseel wat besig was om die hele dammetjie en tuin voor die tempel oor te doen, so foto’s van voor sou net ‘n klomp oranje kegels en boumateriaal gewys het waaroor ek nogal erg teleurgesteld was, maar met nadere ondersoek het ek gesien dat die gebou dieselfde van voor en agter lyk
Volgens my beplanning sou ek eers heelwat later by die tempel uitgekom het, maar omdat die kaart nie op skaal was nie, was ek al teen middagete klaar met als wat ek wou sien. Al wat oorgebly het was ‘n shrine en ‘n groot winkelsentrum waar ek beplan het om die aand deur te bring aangesien die hotelkamer nie ‘n opsie was nie. Ek het toe maar iets gaan kry om te eet en ‘n rigting ingeslaan. Ek was nie heeltemal seker waarheen ek oppad was nie, maar ek het toe by ‘n mark uitgekom wat ek wou sien, maar later van my lysie geskrap het oor ek nie gedink het ek gaan tyd he vir als nie. Dit was in elk geval nie juis iets om te sien nie, maar nietemin, ek het daar deurgestap en weer terug om die tyd om te kry. So het ek toe ook agtergekom dat die winkelsentrum net om die hoek van die mark is en nie blokke verder soos op die kaart nie.
Oppad na die sentrum het ek myself toe ook in die Kushida shrine vasgeloop, waaroor ek glad nie spyt was nie. Dis maar soos in Korea ook, as jy een tempel of shrine gesien het het jy almal gesien, maar omdat ek nou nie elke dag in Japan kom nie het ek maar in elk geval ingegaan en myself oorgegee aan die andersheid daarvan en elke keer as die hemele weer oopmaak vir ‘n bietjie sneeu het ek nog breeër geglimlag!
Die Kushida shrine is in die hartjie van ou Hakata en is opgerig in die jaar 757. Die shrine huisves ook ankers wat gevind is van skepe van die Mongole wat Japan binnegeval het. Daar is ook ‘n ginko boom op die gronde wat ‘n 1000 jaar oud is.
In Julie is die plek egter baie besig omdat dit die Oiyama aanbied as deel van die Yamakasa-gion fees. Dit is ‘n aktiwiteit waar honderde mans swaar hout-flotte deur die strate dra op ‘n bepaalde roete om te kyk wie dit in die vinnigste tyd kan doen.
Nadat ek heelwat tyd hier spandeer het is ek na die belende Canal city om te sien waaroor almal so tekere gaan. Daar aangekom kon ek lankal nie meer my voete voel nie, of ek was eerder BAIE bewus van hulle en het plek gesoek om te rus. Dis nou een ding van Japan wat my wel pla, daar is nerens rusbankies nie of as jy gelukkig is een in ‘n 10km radius! Ek het maar vasgebyt en deur al die winkels gestap en my mond het soos gewoonlik weer oopgehang, maar gelukkig kon ek niks bekostig wat ek sou wou koop nie, anders het ek dalk met ‘n hele winkel daar uitgestap. Later was ek regtig pootuit en het besluit om maar te gaan fliek, want ek het nie kans gesien vir die terugstap stasie toe nie, my voete was af!
Daar was nie veel om van te kies nie en besluit toe maar op Avatar in 3D, wat toe eers 2 ure later sou begin, maar ek koop toe maar die kaartjie, want weereens sien ek nie kans vir die hotelkamertjie nie. Om die tyd om te kry het ek toe maar verder gaan stap, seer voete en al en op ‘n plek afgekom wat veronderstel was om ‘n tuin of iets te wees, maar ek dink in die winter bou en breek hulle aan al die plekke want niemand besoek dit nie, so weereens was ek teleurgestel en intussen sneeu dit weer hard. So stap ek toe maar weer terug na die sentrum toe met hopeloos te veel tyd op hande en te min om te doen. Daar het ek toe maar by Starbucks die grootste koffie wat hulle het gekoop en stadig daaraan gesit en drink en deur die dag se foto’s gegaan. Tot my verbasing het ek ook ‘n groep Koreaane raakgeloop en die een ou kon nie of wou nie verstaan hoekom ek in Japan is nie en wou ook nie glo dat ek van Suid-Affrika is nie, maar nou ja so gaan dit maar.
Ek het toe opgestap na die flieks toe en daar het ek weereens baie styf aan my geld moes vashou, want daar is vir omtrent elke moontlike fliek die een of ander merchandise. Van skryfblokke en dagboeke, tot poppe. My hart het natuurlik gesmelt toe ek “Where the wild things are” se poppe sien en ek het amper my kredietkaart uitgehaal, maar sodra jy die somme maak is dit net nie die moeitewerd nie! Japan is net te duur, selfs al het jy gespaar om ‘n vakansie daar te gaan hou, wat in elk geval nie die geval was nie.
Wat anders is is dat mens nie ‘n sitpleknommer kry nie. Jy moet in ‘n ry gaan staan en soos jy instap moet jy maar hardloop vir ‘n goeie plek. Wel, ek het nie omgegee waar ek sit nie, solank ek kon sit! Ek gee nie om wat die mense se nie, maar ek het Avatar baie geniet. Dit was net ‘n lekker kyk-fliek en visueel was dit besonders, veral in 3D.
Na die fliek is ek terug hotel toe, maar teen die tyd het die sneeu omgesit in swaar ysreen en het dit gevoel of mense jou aanhoudend met slush puppies gooi. Mens se sambreel word so swaar van die ys en dan moet jy dit eers afskud voor jy verder gaan. By die hotel aangekom in een stuk het ek ‘n lekker warm stort gevat en op my bedjie neergeval, die wekker gestel vir 7 uur en vinnig gedink oor wat die volgende dag moet gebeur.
Vrydagoggend het ek vroeer opgestaan as wat oorspronklik nodig sou wees, maar ek wou graag die Fukuoka kasteel, of eerder dit wat oor is van die muur, gaan sien voor ek my visa optel. Ek het buite gekom en dit het gesous, maar ek was reeds uit die hotel, so ek moes maar voortgaan en dit was in elk geval oppad na die Konsullaat.
Ek kon nie veel inligting oor die kasteel kry nie, wat baie vreemd is, maar dis seker nie so belangrike plek nie. Van bo-op die muur het mens ‘n 360 grade uitsig oor die stad wat besonders kan wees as mens mooi weer het. Ek kon net-net die Fukuoka toring uitmaak en al die modder en water het my begin irriteer en toe stap ek maar weer terug na die stasie waar dit ten minste droog is.
Ek het my visa gekry en ek was baie dankbaar en verlig en kon die res van die oggend ontspan in Tenjin waar al die winkels is. Ek het egter net oë gehad vir een en dit was die LoFt! Die plek is fantasties…2 vloere met net skryfbehoeftes en kuns goeters, dan praat ek nie eers van die gadget en speelgoedvloere nie. My mond het oogehang en natuurlik moes ek hier ‘n paar yen blaas en ek het ook! Ek het onder andere vir my ‘n solar aangedrewe kriek gekoop, maar ek weet nog nie of hy werk nie, want ek moet hom nog bou en die son is op vakansie. Ek dink as ek die lotto moet wen sal ek dit in ‘n dag in Japan kan blaas.
Nadat ek my laaste ete in Japan gehad het het ek op ‘n bus geklim en teruggery na die bootterminaal, waar ek weer die wonderlike land moes groet en terugkeer na die een wat ek ken en waar ek vir eers moet wees.
Op die stadium maal daar soveel gedagtes in my kop rond dat dit moeilik is om my storie te begin, en as ek by die heel begin moet begin sal ek ‘n boek kan skryf…
Ek gaan nou nie die hele storie hier oorvertel nie, maar ek het genoem in my vorige inskrywing dat ek alweer by ‘n nuwe skool en in ‘n nuwe stad is. Dit het nie gebeur omdat ek dit so wou gehad het nie, maar eerder omdat die vorige skool my daartoe gedryf het en hopelik sal daar met hulle ook afgereken word. So gebeur dit dat ek daar weg is en begin by ‘n nuwe plek, maar een probleempie… My visa verval die 14e Des 2009 en dis toe nie so ernstig nie, want met ‘n vlug in my hand om na Japan te gaan die 28e kon ek toe die visa met 30 dae verleng.
Grap van die saak is ek wag toe nog vir polisieklaring om van SA af gestuur te word, want daarsonder kan jy nie vir ‘n visanommer aansoek doen, waarsonder jy nie ‘n visa vir Korea kan kry nie. So word daar gewag en gewag en gebel en geskel ens. Op die ou einde moes ek die vlug en hotel kanselleer en hoop en bid die stukkie papier kom by my uit voor die 13e Januarie. So kom dit toe vroeg in die nuwejaar hier aangesit en kon my nuwe baas aansoek doen vir die visanommer, maar dit vat ‘n week op sy eie. Intussen poep ek al bietjies in my broek, want ek sien al hoe ek die land uitgegooi word en moet terug SA toe en agv die vorige skool kan ek dit nie bekostig nie.
Die Vrydagaand voor my visa verval bel die baas my en se hy het die nommer gekry en ons moet die Maandag ‘n vlug gaan bespreek en dan dadelik immigrasie toe om weer die visa te verleng net om dinge teen ‘n gemakliker pas te kan doen.
Die groot ding van Japan toe gaan om die visa te kry is dat jy ‘n visa vir Japan ook moet he en as jy daai groen paspoortjie het is jou kak geboek! Ek onthou nog van ons vakansie na Japan watse drama dit was.
Maandag gaan ons vroeg reisagent toe en oepsie, sorry julle, daar is nie vlugte beskikbaar nie so jy sal maar die Beetle bootjie moet vat! My moed sak in my skoene, maar dit kan seker nie so sleg wees nie en dis net 3ure voor jy voet aan wal sit. So bespreek ons toe die boot vir die 14e Januarie (Donderdag), want ons gaan mos nou my visa wat Woensdag verval verleng en dan is daar genoeg tyd vir die Japannese visa. Ek voel toe weer beter.
Van daar af skiet ons deur na die immigrasie kantoor toe, net om te hoor ek kan nie die visa langer as 30 dae verleng nie en ek het dit reeds gedoen. Ek kan nie eers begin om te beskryf wat deur my kop gegaan het nie. Die dame se toe dat dit nie die einde van die wereld sal wees as ek wel eers die Donderdag die land verlaat nie, maar ek loop dan die risiko om ‘n visa geweier te word en die vet weet ek wil nie in Japan sit en dan gebeur dit en dan moet ek SA toe met al my goed in Korea nie.
So het die baas die reisagent gebel en die tye verander en rondgeskuif sodat ek Wo kan vertrek, maar ek kon eers Woensdagmiddag vertrek, want ek moes nog die Japannese visa ook kry. Dus moes ek 3 dae Japan toe ipv 2 dae, want die aansoeke vir Koreaanse visas kan net in die oggend gedoen word.
Dinsdagoggend is ek toe vroeg per boot Busan toe met ‘n magdom dokumente om die verdomde Japannese visa te kry vir Woensdag. Van die boot af, gehardloop na die subway stasie, op die trein geklim, 2 stoppe later afgeklim en gehardloop na die konsulaat, want die visakantoor maak oor ‘n halfuur toe. Ek pak toe al die dokumente uit en stuur dit deur die gleuf in die glas net om te hoor hulle aanvaar nie die visanommer nie, want dit moet die oorspronklike dokument wees. Nou vra ek jou, hoe kry jy dit as die nommer per sms na jou gestuur word??? Gelukkig se die ongeskikte antie sy sal die aansoek deurstuur, maar ek moet die oorspronklike dokument faks en die volgende dag saambring as ek die visa kom afhaal. VERLIGTING spoel oor my.
So hardloop ek weer terug stasie toe, vang die trein, hardloop vir die boot, want ek moet terug immigrasiekantore toe en ek moet nog op een of ander manier probeer betyds wees vir klas! By immigrasie weet hulle nie waarvan ek praat nie en ek se toe net hulle moet die Japannese bel en vra, want ek weet ook nie wat hulle soek nie en raai wat? Daai lot is toe met middagete en my baas raak bemoerd want ek mis toe al my eerste klas en ons is reeds ‘n onderwyser kort.
Na 10 min se gewag, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kon ek gelukkig die stukkie papier kry en met ‘n taxi terug jaag skool toe en dit faks. All is well again…
Al wat toe nog voorle is om Woensdagoggend die visa te gaan haal en geld te ruil en om op daai boot te klim Japan toe. Ek is halfpad daar…
Woensdagoggend het ek maar swaar opgestaan en moes die eerste boot vat, sodat ek vroeg die visa kon afhaal. Ek moes nog immers iewers geld ruil en ek het gemik om die vroeer boot te probeer kry, sodat ek die aansoek in Japan nog Woensdag kon indien en verder ontspan na al die op en af en heen en weer hardlopery!
So, kry ek toe die visa vir Japan lekker vroeg, ruil my geld, wat toe verander in Japannese kleingeldjies so min is dit en mik vir die internasionale terminaal. Ek was half 11 daar en vra toe uit na die 12 uur boot en toe word daar vir my gese daar is nie meer ‘n 12 uur boot soos op die skedule aangedui nie! So moes ek toe daar rondhang tot ek 2 uur kon vertrek en daar is minder as niks om te doen en om buite rond te loop was nie ‘n opsie in -8 C nie! Dit was blerrie koud daai dag, ek het nie eers kans gesien vir rook nie!
Gelukkig was daar rekenaars gekoppel aan die internet en kon ek verder die kaart van my bestemming uitfigure. Die tyd het gevlieg en toe ek weer sien moes ons deur die hekke en al die dinge doen soos op ‘n lughawe en 2 uur was ons oppad na Fukuoka… (vervolg)
Ek weet ek was vir lank baie stil hier op my blog en ek het my redes, maar ek gaan julle nie met die detail verveel nie.
Ek is alweer by ‘n nuwe skool (dank Vader) en so ook ‘n heel nuwe provinsie en stad. Ek het in Desember hier begin en was dus nie SA toe nie, maar ek sal oorleef. Ek bly tans op ‘n eiland, Geoje-do, maar die is darem verbind aan die vaste land op een plek met ‘n brug en hulle is besig met die konstruksie van ‘n baie groter en langer pa na die groot hawestad Busan. Hulle beweer dat die 8.2 km lange brug in 2010 gaan klaar wees, maar intussen maak ek gebruik van ‘n bootrit van 45 min om tot in Busan te kom. Om padlangs te ry op die stadium sal amper 4 ure neem, so ek trotseer eerder die water en maak my seebene sterk
Geoje-do het omtrent so 200 000 inwoners waarvan hier heelwat buitelanders is as gevolg van die skepe wat hier gebou word. Ek bly in Okpo wat dan ook die tuiste vir die Daewoo skeepswerf is en dit is groter as wat dit op die oogaf lyk. Die Samsung skeepswerf is so 15 min van my af met die taxi en die is nog groter. Dis vreemd om heeltyd in buitelanders vas te loop, maar die meeste dink ek is maar Russe en hier is ook heelwat uit Frankryk.
Wat dit so lekker maak met al die uitlanders is dat mens hier produkte kry wat mens nie sommer of soms glad nie op ander plekke in Korea kry nie, soos fetakaas en blokke regte kaas, nie hierdie aaklige plastiek lappies nie. Hier is ook oats en speserye wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Ek probeer maar uit die winkels bly wat dit verkoop, want natuurlik kom dit ook teen ‘n prys en ek sal so blok kaas in ‘n dag opeet!
Met die koue wat ons sover hier beleef het was ek nog nie rerig veel verder as Okpo nie, maar hier is heelwat strande en ander eilande wat deel uitmaak van Geoje. Daar is ook bootritte om die eiland, maar die sal ek waag na Februarie as dit weer warmer word. Ek sien veral uit om die eiland Oedo te besoek, want dit is ‘n baie bekende botaniese tuin met ‘n interessante geskiedenis, maar ek sal vertel as ek daar was.
Vir nou probeer ek net die winter oorleef en ek herstel nog van al die stres wat gelei het tot Japan. Ek sal volgende keer daaroor ietsie skryf en ‘n paar bevrore foto’s van Fukuoka ingooi.
Demoerin het my getag om 13 goed wat julle nie weet/dalk weet hier neer te pen. Ek weet nie of ek by 13 gaan uitkom nie en sal dalk bietjie kreatief moet raak
Ek het ‘n tongring…dit was ‘n dare uit my studente dae en ek is mos nie bang nie.
Ek het ‘n tatoo van ‘n naaldekoker op my laerug – ‘n going away geskenk toe ek klaar geswot het.
Ek rook.
In Korea staan ek in die week nooit voor 12 op nie. Ek begin eers 3uur werk.
Bloed en derms gross my nie uit nie, maar sommige kosse doen. Ek is vol nonsens en ek kan dit nie help nie. As ek by mense kuier wat ek nie rerig ken nie sal ek wel oë toeknyp en eet wat op my bord is.
Ek is mal oor chocolate mouse.
Ek haat dit om kos te maak.
Ek het al gebungee en saam met great whites geswem.
Ek het ‘n week terug getrek en bly nou op ‘n eiland.
Ek hou van teken en skilder, maar is op die oomblik te lui.
Ek is NIE ‘n oggendmens NIE!
Ek hou daarvan om mense te treat.
Ek gaan nog leer kitaar speel.
Dis vir eers dit. Hierdie kant van die aarde is dinge maar stil en rustig en dit voel nie eers soos Kersfees nie. Almal werk nog tot die 24e en die 28e is ons maar weer op ons pos.
Ek was die afgelope naweek na berg Gayasan (so 2ure van my af) om na die pragtige herfskleure te gaan kyk. Gayasan is ook een van Korea se nasionale parke, maar is heelwat kleiner as die ander.
Die hele Korea is besig om in ‘n towerpalet te verander met die helderste geel en oranje kleure en spatsels rooi wat jou aandag dadelik trek. Stil waterstrome en die dooie blare wat saggies neerreen as die koel windjie waai. Voorwaar iets wat die batterye weer bietjie laai en die siel sommer nuwe krag gee.
Daar is eintlik nie eers woorde om hierdie pragtige verskynsel te beskryf nie en ek kan maar net probeer om julle ‘n idee te gee met my foto’s. Die kleure is net doodeenvoudig ongelooflik en lyk soms onnatuurlik, so asof iemand oral plastiekblare “geplant” het.
Wel, met die herfs nou in volle swang en met die laaste bome wat nog verkleur sidder ek om net aan die winter te dink wat voorle. Ek sou kon doen daarsonder, die herfs is mos koud genoeg en die winter is boonop lelik ook, behalwe as jy in die Kaap bly!
Se jou se