Ek het aan die einde van die herfs hier in Suid Korea aangeland en was alles behalwe voorbereid op die winter wat voorle. Ek het al sneeu gesien, maar dit was niks in vergelyking met wat ek hier ervaar het nie. Ongelukkig het ek nie ‘n wit kersfees gehad nie, maar die nuwejaar was spierwit.
Ek is die laaste naweek van 2007 weg uit Gwangju en hier het dit net baie gereen en NIKS gesneeu nie. Ek het egter een aand in Gyeongju die eerste sneeu van die winter gesien val, maar dit was ook maar so min dat ek ietwat teleurgesteld was…Ek het in die eerste week van Januarie 2008 my wintervakansie gehad en moes net gaan waar die sneeu is en so het ek op ‘n bus of twee geklim en die lang pad Muju toe aangedurf. Die opgewondenheid was groot en ek het soos ‘n kind op oukersaand gevoel. Ek het eers donker in Muju aangekom, maar het nie omgegee om die koue te trotseer en om my kamera te “oor-ys” nie.



Toe ek uiteindelik, dood onskuldig, weer by my slaapplek aankom is ek deur die ene Mr. Kim aangekeer en ‘n bier aangebied. Ek het maar gehuiwer oor die saak, maar het op die ou einde ingegee. Toe ek myself weer kon kry word ek uitgevra oor my skoengrootte en word ek so ewe na buite geneem om skiklere aan te pas. Hier bestaan nie iets soos grappies maak oor sulke goed nie en voor ek my kon kry is ek opgegear vir ‘n “snowboard” sessie. Ek was vrek opgewonde, want dit was iets wat ek nog altyd wou doen, maar ek moet bieg, ek was maar bietjie skrikkerig en het geweet ek gaan ‘n totale gek van myself maak. Gelukkig het my “partner in crime” besluit om te ski, so ek was nie so bekommerd om my naam met ‘n sneeuplank te slaan nie aangesien ons nie saam gewys is hoe om die hele storie te probeer bemeester nie.


Die hele ervaring was absoluut fantasties en alhoewel dit maar die heeldag onder vriespunt was het ek dit nie eers agtergekom nie. Aan die begin was dit maar ‘n gesukkel om my balans reg te kry, want met jou twee voete vasgemaak aan daardie snowboard is dit nie so maklik nie, maar ek het verbasend gou agter die kap van die byl gekom. Om vorentoe te gaan moet jy die bord afdruk en hoe verder jy dit afdruk hoe vinniger beweeg jy en as jy wil stop of stadiger, moet jy jou gewig na agter gooi, maar ook nie te veel nie, want dan val jy. Ek is ernstig gewaarsku dat ek NOOIT moet vooroor val nie, want jy sal jouself doodval… Soos ek nou maar is, moes ek natuurlik met ‘n helse spoed daar teen die 2e laaste helling af (was baie lekker). Toe ek myself bang maak het ek te vinnig probeer stop en my balans vooroor verloor en daar was een GROOT sneeuwolk rondom my!!! Ek weet nou hoekom mens nie moet vooroor val nie. My wind was uit en ek het net daar bly le: koud, in pyn en vol sneeu! Maar ek sal mos nou nie laat een val my keer nie…so staan ek toe maar weer op na ek weer kon reguit sien en gly toe rustig na onder.


Daar het ek ook besef dat ek dalk weer een of ander vorm van oefening moet oorweeg! Dit vreet mens se bene! Needless to say; ek kon die volgende dag nie so lekker loop nie:-)
Ek was die hele dag op die berg en was dood toe ek by die motel aangekom het. Mr. Kim was ook nou nie juis genadig gewees nie…regte Hitler en ek het my ‘n paar keer goed vir hom vererg! Gelukkig het ek ‘n ander instruktrise die oggend gehad…
Ek is ‘n absolute adrenalien junky en sal dit vir enige iemand aanbeveel! Dit was regtig sooooo lekker en ongelooflik mooi!!!


Die volgende dag is ek met ‘n swaar hart terug na my stad (Gwangju), maar was aangenaam verras met die 50cm sneeu wat ons in my afwesigheid gekry het. Die winters hier is maar so vaal en lelik soos in die Transvaal, maar die sneeu maak die koue hier die moeitewerd en het ‘n eens vaal en grys landskap in ‘n sprokieswereld omtower. Die sypaadjies was egter nie baie veilig nie en mens het maar so gly-gly rondgeloop. Ek kon nie glo hoe die landskap verander het nie…Dit was dan nou ook ons eerste en laaste groot sneeustorm gewees en het sedertdien nog nie weer so baie gesneeu nie, maar dis werklik iets wonderlik om te beleef. Wat dit vir my nog meer magical gemaak het is dat ek dit met iemand kon deel wat dit net so baie soos ek geniet het. Dit was great om weer soos ‘n kind te kon jol! Ek vergaap my elke keer aan al die mooi patrone van die sneeuvlokkies en dit laat my heeltemal in vervoering.


Nou wag ek in spanning vir die lente om sy verskyning te maak, want gisteraand se sneeu en reen het die temperature vandag weer skerp laat daal…ek hou regtig nie van die koue as ek moet werk nie. Sal veel eerder in die bed bly:-)








Se jou se