
Die lente is hier en die somer is sterk oppad, wel ek dink so in elk geval! Ek het so fine feeling ek gaan behoorlik les opse hierdie somer in Korea aangesien my ou blyplekkie sonder lugversorging is. Ek het nie gedink dit is so issue nie, maar al wat ‘n Koreaan is lag net en skud hul koppe as ek se dat ek nie lugversorging het nie. ‘n Paar ander buitelanders wat al met die somer kennis gemaak het hier het my alle sterkte toegewens!
Ek weet nou waarvan hulle praat! Dis nou eers lente en die temperature draai nou nog eers hier tussen 18 en 22 en ek wil doodgaan. Dalk voel dit net so erg omdat die winter so blerrie koud was…dis nie so warm nie, maar erg bedompig!

Behalwe daarvoor is alles regtig asemrowend mooi en die kersiebloeisels het die eens stokagtige geraamtes in ‘n sprokie verander. Ek noem dit warm sneeu…dit lyk regtig soos sneeu op die bome met die plate wit blomme en as die wind waai dan reen die bloeisels na onder, so asof dit sneeu, maar sonder die koue.


Dit word deesdae ook vroeer lig en later donker en die voeltjies se gesing is reeds vroegoggend hoorbaar as al wat ‘n skrefiesoog is nog in droomland is. Die bome en struike pronk met nuwe groeipunte en lowergroen blare wat orals uitloop. Die landskap word ingekleur met die helderste blomme gesigte.


Al wat ‘n stukkie oop grond is word omgeploeg en al wat somergroente is word geplant. Ek is ook ingespan om saam met die kleingoed aartappels te plant en het dit so geniet om met my hande in die grond te grou. Ek wens julle kon hulle gesigte sien! Hulle het nogal gegril vir die stukke aartappels wat hulle moes plant en om so aan die grond te vat sonder handskoene was duidelik vir party ook nie baie snaak nie!

Ek het so week terug bietjie gaan stap en net weer besef dat die Koreane ‘n siek sin vir humor het of hulle is nou maar net erg oor hul oefening. Die bergie wat ek uitgestap het het my behoorlik laat blaas (ek weet ek is alles behalwe fiks en was ook nie 100% gesond nie) en toe ek uiteindelik bo uitkom het ek hierin vasgekyk…

Ek het sommer net begin lag. Ek meen, really!!! Dit maak my net moeg om nou daarna te kyk, wat nog van as ek ‘n moerse opdraende uit is?!
Ek het darem ‘n mooi sonsondergang gesien so op my pad af na onder wat dit van voor af die moeitewerd gemaak het.








Kaalvoet mooi foto’s! maar na so opdraande is mens mos gedaan en blaas jy soos ‘n kwaad kat, hulle sal my moet lawe met koue handdoeke, nou moet jy ysters pomp? nee a! dan is ek in emergency! Ek geniet jou skrywes oor Korea
Julle lente is pragtig! Enjoy!
N nuwe blom bly n mooi blom!
Wipneus: Thanx! Ek stem met jou op daai oefensessie! Daar was actually ‘n ou gewees wat so ewe weights gedoen het…lekker laf as jy my vra!
Pikkie: Mooier as enige ander lente wat ek nog gesien het…of dalk kan ek netnie meer mooi onthou nie
TJ: Verseker!
Jy sal maar ‘n waaier moet kry jong, maar dan ook nie vergeet om half af te droog voor jy gaan slaap nie – dit help nogal om ‘n klam vel te he, met die wind daarop.
Strongs, in die Kaap sluip die winter nader, en ek is so opgewonde soos ‘n kind by ‘n bazaar. Wel, lyk dis net ek, want ander bloggers skiet my altyd af oor ek so van die winter en die reen hou. EN MY DAK LEK, maar dit keer nie my smile om reg rondom my kop te loop as ek voor die kaggel sit en die reen kletter op die dak nie!
Skoor: Ek ken darem daai trick! Wellington en die Paarl het my mooi geleer…
Ek is glad nie ‘n wintermens nie, maar daai tye voor ‘n kaggelvuur met ‘n glasie rooies is darem maar lekker!
Pragtige foto’s en mooi beskrywings! Hou baie daarvan! Jammer om te se, maar die somers hier is baie ongemaklik – miskien moet jy in ‘n lugversorger bele?
Hoop nie jou rug is nou so krom soos die Koreaanse tannies s’n, so na al die aartappel-plantery nie!
Eish Boer! Het jy al gesien wat kos daai goed hier??? Die waaiers moet maar die trick doen! My rug is darem nog reguit na die eenkeer se aartappels plant
Ja jy’s in vir ‘n ding, ek onthou hoe my bril in ‘n Juliemaand in Seoul toegewasem het! Ek het en sal seker nooit ‘n winter daar sien nie, maar ek verkies die somer. Mooi foto’s.
Jy is nie alleen nie mens … ek is MAL oor die winter! Elke oggend wat dit bietjie kouer is en elke aand wat ek die kombersie oor my voete by die TV kan trek, is vir my soos kersfees! Kan ook nie meer wag om die kaggeltjie aan te steek nie! Ai, winter is hemels!!
Die enigste lekker winter wat ek al gehad het was in die Kaap voor ‘n kaggelvuurtjie. Vir die res, haat ek die koue! Bring vir my die son en die see en ek is op my gelukkigste, maar hierdiekant van die wereld is die somer ‘n anderste grappie! Die winter is ook net lekker as jy iemand het om saam met jou voor daai vuur en onder die kombers te sit
Ek haat winter en ek is mal oor hitte. Ek dink ek moet die Kaapse winter verruil vir jou Koreaanse somer. As jy Paarl ken, sal jy weet dat dit ook ‘n dorp van uiterstes is. In die somer brand die son jou dood as hy jou alleen kry en in die winter vries jou wimpers sommer vas as dit bo die komberse slaap. Wens net een ding, dat ek nog kan sneeu sien. Verder kan julle maar jule winters hou.
Jou sonsondergang foto is vir my die mooiste.
Be careful what you wish for! Laat ek net eers die somer sien en ervaar en oorleef, dan sal ek vir jou kan se of ek dit nog steeds bo die winter verkies. Die Paarl is heluit warm, maar die winters is nie so erg nie! Ek het lank in Potch gebly en daar word dit koud! Die sneeu is regtig nice en maak dit die koue so bietjie die moeitewerd, maar dis steeds nie lekker om soos ‘n orosmannetjie rond te loop onder al die lae klere nie. Vir die eerste keer in my lewe gaan ek darem in die somer verjaar en ek sien baie uit daarna!
Ek was vanoggend net so opgewonde om te sien lente het in Stockholm arriveer – my tweede een hier, time flies né? Gelukkig raak dit nie so erg warm in die somer nie.
Wens dit kan al lente hier wees ek haat die winter
Nee man! Die winter het dan nou eers begin daar by jou! Ek verstaan heeltemal…ek haat die winter!