
Ek was so paar weke terug weer in Homigot gewees, waar die bekende “Hands of Harmony” staan. Hierdie hande is in 1999 opgerig as ‘n simbool van die Koreane se aanhoudende strewe vir ‘n beter lewenskwaliteit. Die een hand is op land en die ander in die see en my eerste gedagte toe ek dit sien was dat dit soos ‘n reus lyk wat besig is om te verdrink. Hierdie hande is regtig groot en nogal iets om te aanskou.


Homigot (Homi Cape) is op die mees Oostelike punt van Gyeongsangbuk-do Pohang Yeongilmanbaai, en is een van die beste plekke waar die sonsopkoms, reg deur die jaar, eerste in Korea gesien kan word. Homigot is ‘n baie populere plek, veral die “Sunrise Park” waar daar elke nuwejaar ‘n groot fees gehou word. (Gaan kyk hier oor die fees)
Die Daebo area, waar die Homigot vuurtoring staan, het ‘n pragtige uitsig oor die see. Die naam is afkomstig van ho (tier), mi (stert), and got (klein hawe). Die Koreane glo dat die Koreaanse kaart soos ‘n tier lyk en die ligging van Homigot is reg op die tier se stert. Tydens die Japanese okkupasie (1910-45), het die Japanese die naam na Janggigot verander (jang beteken haas en gi beteken stert) in ‘n poging om die Koreane se waardigheid te vernietig. Die naam is egter terug verander na 1945, alhoewel baie kaarte en padtekens nog na die Japanese naam verwys.
Homigot se vuurtoring staan 26.4m hoog (Cultural Asset #39). Die argitektuur is Westers met ‘n oktagonale vorm en is opgerig na ‘n Japanese skip in 1901 naby die kus gesink het.
Die vuurtoring is ontwerp deur Franse argitekte en is opgerig deur ‘n spul Sjinese en is voltooi in Desember 1903. Selfs kontemporere argitekte bewonder die struktuur, omdat die baksteenstruktuur gebou is sonder gewapende beton en dit is smal vanaf die basis, wat ongewoon is vir so hoe struktuur. Dit het 6 verdiepings en elkeen se plafon is versier met peerboombloeisels wat die koninklike familie van die Chosun-dinastie simboliseer.
Ek het dan ook die geleentheid gehad om die vuurtoring museum (die enigste in Korea) daar te besoek. Ek is mal oor vuurtorings en hawens en dit betower my heeltemal om daarna te kyk en om te wonder hoeveel skepe oor die jare heen al om die liggie gevaar het. Daar was allerhande interessanthede in die museum, maar natuurlik mag mens nou weer nie foto’s geneem het nie, maar ek het tog my luck getry






Buite die museum is ‘n hele paar modelle van verkillende vuurtorings, in Korea, opgerig en ek wys hier ‘n paar interessantes.
Homigot (Hanggigot, Janggi Gab, Janggigot, Changgigot)

1903. Aktief; fokale vlak 31m; wit flits elke 12 s.
Hwaamchu

1994. Aktief, fokale vlak 49 m; flits elke 10 s. Die vuurtoring was oorsprinklik 30m hoog, maar ‘n dubbelverdieping platvorm is in 1997 aangebou en staan nou 44.5m hoog.
Udo (Jeju eiland)

1906. Die vuurtoring is 16 m hoog en die 6e oudste in Korea. Die vuurtoring is oorspronklik deur die Japanese opgerig, omdat dit vir hulle moeilik was om hul skepe veilig in Udo se hawe te kry. Dit was vir hulle ‘n belangrike hawe, omdat hulle wapens vir hul oorlog teen Rusland daarheen vervoer het.













Se jou se