
Na ‘n besige en uitputtende week het ek Saterdag ‘n bietjie rus en vrede buite die woelige stad gaan soek.
Ek het ‘n ruk terug hier geskryf oor die opstand wat plaasgevind het in 1980 in Gwangju, asook die Nasionale begrafplaas wat opgerig is ter herdenking van die wat gesneuwel het in die proses.
Dit is vir my wonderlik om te sien hoe die Koreane hul geskiedenis herdenk en die moeite wat hulle doen met die oprig van monumente. Ek het al foto’s van die begrafplaas gesien, maar dit het my nie naastenby voorberei vir wat ek daar sou ervaar nie.
Dit was ‘n stil dag met min mense op die gronde. Die lug was helder blou met ‘n paar wit wolksptrepe daaroor geverf. Dit was ongelooflik stil en ek was oorweldig deur ‘n gevoel wat ek nie met woorde kan beskryf nie. Ek het deur die groot hek gestap en is begroet deur ‘n groot oop spasie en ‘n 4m hoe monument wat ‘n simbool is vir die nuwe lewe wat Koreane deur die stryd bekom het.

Regs van die monument is ‘n klein gebou met foto’s opgestapel tot teen die dak, van die 200 mense wat gesterf het. Die effek is baie dramaties en dis so stil en as jy mooi luister voel dit of jy die stemme van die mense wat na jou terugstaar kan hoor. Jong mense, ou mense en kinders wat geglo het in ‘n saak en daarvoor baklei het.



Aan die oorkant van die gebou is ‘n museum opgerig met foto- en videomateriaal wat die hele storie uitbeeld. Dit was vir my nogal ontstellend om te sien hoe die militante,mense met M16’s en masjiengewere doodskiet. Hoe hulle met knuppels geslaan en met bakstene doodgegooi is en dit terwyl hulle nie een ‘n wapen gehad het om mee terug te veg nie.

Die liggame van die gestorwenes is in plastieksakke gegooi en agterop ‘n trok gelaai, waarna hulle sommer sonder seremonie begrawe is. Die families het egter in opstand gekom en later is almal opgegrawe en geskuif na die huidige begrafplaas waar hulle met eer begrawe is.


Elke jaar op 18 Mei, word daar ‘n gedenkdiens gehou waar die families en vriende bymekaar kom om die helde van gister te vereer.


Na die besoek aan die museum is ek reguit na die grafte wat agter die monument le. Daar is 200 grasheuweltjies met ‘n kopstuk en ‘n wit en swart foto. Daar was ‘n vrou wat, saam met haar seun en sy dogter, plat voor ‘n graf gesit het en ge-eet en drink het en sodoende die held in hul familie vereer. Dit is hartseer om te sien hoe jonk die mense was.



Hierdie is net weereens ‘n bewys dat daar soveel ander lande ook is wat geveg het vir hul vryheid en vir ‘n demokratiese land. Suid-Afrika is nie die enigste land wat ooit deur so iets moes gaan nie en verseker ook nie die eerste en laaste nie. Wat dit aanbetref is SA verseker nie uniek nie, alhoewel baie mense vergeet dat daar ‘n wereld daarbuite is wat daagliks veg vir hul vryheid en demokrasie.

“Commemoration of the past and continuation of great thoughts begin with finding out and remembering the truth about history”







Se jou se