Ek het so rukkie terug by die huis aangekom vanaf ‘n begrafnis. Dit was nou regtig bietjie vreemd vir my. Een van die onderwysers se pa is gister oorlede en toe word ek ook sommer aangese om by die begrafnis te wees.
Dis ‘n anderste grappie hoor. Eerstens moes ons almal ‘n aardige bedraggie opdok, om die familie te ondersteun in die betaling vir al die goeters. Ek weet wragtig nie hoekom ek daarby ingesleep is nie, want ek ken skaars die onderwyser, wat nog van haar pa of enige ander familielid.
Vanaand na skool is ons almal in ons swart pakkies (jy moet soos ‘n goth lyk) by die skool weg. Toe ek weer sien stop ons by ‘n hospitaal en dom ek vra: “Why are we at the hospital? I thought he died yesterday.” So vind ek toe uit dat die begrafnis sommer in die hospitaal se basement gehou word. My eerste gedagte was natuurlik iets in die lyn van ‘n snaakse ondergrondse affere. Af met die loopvlak, land ons op ‘n blink teelvloer en allerhande fancy en mooi goeters teen die mure. Dit het eerder na die voorportaal van ‘n deftige hotel gelyk.
Ons stap nog so ent aan en die antiklimaks van lae plastiek tafeltjies, oorgetrek met wit plastiek, slaan my sommer so tussen die oe. Oral sit mense gesellig op die vloer en kuier om die kospotte. ‘n Restaurant by ‘n begrafnis???!!! WTF?
Elk geval, om die hoek is ‘n groot vertrek waar ‘n “shrine” opgerig is met ‘n A3 foto van die oorledene en chrysante net waar jy kyk. Die blommerangskikkings is massief met 2 swart en wit linte wat daarvan af hang. Die een lint het ‘n boodskap op en die ander een se van wie af dit kom.
Op die tafel voor die foto is ‘n klomp eetgoed uitgepak in verskillende bordjies en houers. Van links na regs was daar wit ryskoekies, ‘n bak dadels, ‘n bak met goed wat ek nie ken nie, dan sulke halfgeskilde pere in een bak en appels in die volgende. Heel regs was ‘n heel waterlemoen wat se punt afgesny is. Ek het nie die vaagste benul wat die simboliek of idee agter dit is nie. Ek neem aan dis maar soos offers of iets in daai lyn.
Die naasbestaandes is in tradisionele swart rokke en pakke geklee met ‘n wit omboordsel om die kraag by die vrouens en ‘n swart en wit band om die linker bo-arm van die mans.
Vir die volgende stap maak jy maar soos die Fillistyne of is dit nou die Romeine?
Uit met die skoene en in ‘n ry langs mekaar ingeryg. Ek moes mos op die blerrie punt eindig. Toe ek weer sien word ek aangehuts om eerste te buig en ek het die storie net so aangestaar en gedink hier kom nou nonsens. Dank Vader dit was nie die “moer-op-die-vloer-neer” buig nie, want anders het ek dalk net begin lag. Net ‘n respekvolle buig van die hoof en toe is ek daar uit!
Dit het nie eers ‘n minuut gevat nie en toe word ons aangejaag na die restaurant toe waar ons neergeplak is op die vloer en allerhande kosse is aangedra. Van rys tot druiwe en rou vis en baie slegte vissop! Dan natuurlik, wat is ‘n Koreaanse geleentheid dan nou sonder sy bier en soju! Ek kon dit amper nie glo nie.
Ek moet se, dit was die jollieste begrafnis waarby ek nog was en niemand het eers ‘n traan gepik of hartseer gelyk nie. Dis glo hoe die storie maar verloop! Hoop net nie die spul kry dronkverdriet nie…
Ek wens ek kon ‘n paar foto’s neem, maar ek was bang my begrafnis sal dan volgende op die lysie wees







Se jou se