27
Feb
08

Naweek in Hwasun

By my skool, of Hagwon soos hulle dit hier noem, is ons net ‘n klomp vroumense…so het my kollegas my dan nou ook eindeloos genag om vir ‘n naweek saam met hulle weg te gaan. Aanvanklik was ek nie baie lus vir die hele storie nie, want hulle is nie altyd so mal daaroor om engels te praat nie. Dit kan nogal irriterend raak as mens nie weet wat om jou aangaan nie, maar ek kry hulle goed terug deur sommer net in afrikaans (met myself natuurlik) te praat. Hulle het darem nou al die boodskap uitgefigure:-)

So is ons toe nou een Vrydagaand hier weg na Hwasun. Dis ‘n klein plekkie so uur se ry van Gwangju af. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar was tog so bietjie opgewonde om ‘n nuwe plek te sien. Om die minste te se, het ons natuurlik verdwaal en ek was so bietjie bekommerd, maar nie oor dit gevaarlik is nie. Ons het na ‘n lang gesukkel uiteindelik die regte afdraai gekry en in allerhande kronkelpaadjies die berg opgery. Ons het in ‘n houthuisie in die berg/bos gebly en dit was ook nie so maklik om te kry nie.

 

houthuisiemy kollegas

 

 

 

Ek het op ‘n stadium uit die kar geklim en ‘n end vooruit gestap om te kyk waarheen die pad gaan, want dit het vir my maar soos ‘n doodloopstraatjie gelyk. Die spul koreaanse vroumense het al gillend en benoud agterna geroep toe hulle my nie meer in die kar se ligte kon sien nie. Ek het gele soos ek lag! Ek is nie ‘n bang mens nie en nog minder vir die donker, maar so moes ek toe nou uitvind dat die lot wil omkap as die ligte afgaan. Hulle is vrek bang vir die donker en vir al die onheil wat kan uitbroei in die nag…soos ek dan nou ook is, moes ek natuurlik hul siele so bietjie uittrek en die lot goed skrikmaak! Evil me, maar dit was vrek snaaks!

Ek het toe maar teruggestap in die rigting van die kar om vir hulle te se hulle moet omdraai. My een kollega het my natuurlik nie geglo nie en moes tot onder ry om seker te maak. Dis nou ook waar baie van die sports begin het…aan die einde van die pad was ‘n groot grasperk waar sy wou omdraai, maar in die hoek was ‘n verskuilde graf. Toe die kar se ligte daarop val het sy so vinnig as moontlik die kar gedraai en daar was net een stofwolk soos sy die kar gespin het! Hulle was spierwit!!! Soos ek kan aflei is hulle spoke nogal wild (volgens die koreane) en daarom is hulle dan nou so bang vir die donker.

boo-ha-haOns het nie lank daarna ons bestemming bereik. Ek moes elkeen vergesel in die donker paadjie na die huisie op die hewel. Daar was ‘n baie spookagtige atmosfeer in die lug met die paar dowwe, geel ligte wat die pad na bo verlig het en die wind wat deur die hoe bome se takke gesuis het. Dit was maar stil…dis nou tot die kospotte aan die gang gesit is en die wyn begin vloei het!

Vir die een ding is ek baie dankbaar en dit is dat my kollegas darem hul rooiwyn geniet en daar was camembert kaas ook! Ek was heel verbaas! Hulle kan nie hul wyn so goed hanteer nie en het vroeg, vroeg op hul ore geloop, soveel so, dat ek hulle moes leer afrikaans praat! Dit het my natuurlik baie vermaak! lekker rooies

Stilletjies het die een na die ander verWYN (soos ek deesdae se) en in die bed geklim (of is dit nou op die vloer neergeplons?).

Vroegoggend is ontbyt gemaak, maar nie soos ons dit ken nie…rys en kimchi…en darem bulgogi (beesvleis) ook! Ek sukkel om so vroeg in die oggend jogurt af te sluk, wat nog van so swaar ete! Ek was egter bly dat ek ge-eet het, want die daaropvolgende aktiwiteit was uitputtend!

Ons het vertrek na ‘n oord (weet duidelik nie wat die naam is nie) waar mens met sulke rubber tjoepies teen ‘n helling afgly! Daar het die kind in my weer die oorhand gekry en het ek ‘n paar skoolkinders ore aangesit! Dit was vetpret! Ek dink die sneeu doen iets aan my…dis asof die ander ek uitkom (onthou enige iemand daardie afrikaanse kinderprogram?)! Wel, ek gee nie om nie, solank ek dit geniet:-)

 

wheeeeee

up, up, up and away

So het ‘n lang dag dan ook tot ‘n einde gekom en is ons moeg en met seer lywe terug na Gwangju!!! Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd wat ek weer oor ‘n naweek in Gwangju was en het ek nie geweet wat om met myself aan te vang nie.

Die volgende wyk nou so bietjie van die bogenoemde tema af, maar ek vertel dit in elk geval…

Sondagmiddag was ek regtig gatvol vir my woonstel en toe gaan soek ek ‘n hair shop. My kollegas het lank belowe om my te vat om my hare te sny, maar het ook nie so ver gekom nie. Ek was moeg gewag en vat toe nou maar ‘n kans om dit op my eie te probeer doen. My hare is lank so hoeveel kan nou verkeerd gaan as hulle net die punte moet sny? en dit krul ook daarby, so dit kan nie te erg opgeduiwel word nie, reg???

Ek het toe ‘n plek gekry wat nie te besig was nie en hulle het beduie dat ek kan sit. Hulle het nie ‘n woord engels verstaan nie en moes ek maar met handgebare wys wat ek gedoen wil he en bid vir die beste!!! Ek het toe sommer my hare laat reguit maak ook…ek het 4ure later daar uitgestap!!!! Hulle vat ook maar hulle tyd hoor…ek was heel tevrede en moerse verbaas oor wat ek kon regkry sonder om ‘n woord te se! Hulle het presies gedoen wat ek wou gehad het…dis meer as wat ek van sommige SA haarkappers kan se. Ek weet nie wie was meer verbaas nie, ek of my kollegas!!! Hulle dink natuurlik ek was heeltemal van my kop af om alleen te gaan vir ‘n haarsny!

Hier is ‘n foto van ‘n hair shop in downtown. Nie waar ek was nie!

 

dit lyk nie lekker nie


4 Responses to “Naweek in Hwasun”


  1. Februarie 28, 2008 om 12:57 vm

    Ek het ook al gehoor dat Oosterlinge so ietwat meer sensitief vir die voggies is as die res van die mensdom!

  2. Februarie 28, 2008 om 2:35 nm

    Ek weet nie hoor…hulle kan liters soju en bier wegslaan! Dalk is hulle maar net nie goed met die wyn nie…

  3. Februarie 28, 2008 om 10:07 nm

    Interessante inskrywing! Jy het omtrent ervaringe gehad! Daai “sledding” met die buitebande lyk baie lekker en makliker as ski! En stel my ASB tog ook aan die Koreane voor wat van CAMEMBERT en ROOIWYN hou…ek soek nog sulkes!

  4. Februarie 28, 2008 om 10:08 nm

    NS: ek dink “VERWYN” is ‘n baie oulike neologisme…gebeur heel dikwels met my!


Lewer kommentaar


Kalender

Februarie 2008
M D W T V S S
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
2526272829  

Wie’s hier…

counter

Van waar gehasie?

Waar is wat?

Flickr Kiekies

waarnatoe volgende...

  • Geen

Blog Statistieke

  • 49 655 houe
Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Bladsye