Eenmaal ‘n jaar lok ‘n klein eilandjie, in die Jeollanam-do provinsie aan die Suidwestelike punt van Korea, derduisende toeriste van regoor die wereld. Jindo is die 2e grootste eiland naas Jeju in die Suide, maar baie minder bekend vir die avontuurlustiges. Jindo word aan die peninsula verbind d.m.v ‘n brug en kan mens vrylik heen en weer reis.
So wat maak dat mense eenmaal ‘n jaar hierheen stroom? Wel, om mee te begin is dit die “Moses wonderwerk”. Dit is ‘n misterieuse roete wat te voorskyn kom vroeg in Mei maand wanneer die see skei om ‘n wandelpad tussen Hoedong en Modo eiland voort te bring. Hierdie pad is ongeveer 2.8km lank en kan tot 60m breed wees, afhangende van die gety. Dit word die “Moses wonderwerk” genoem omdat dit soortgelyk is aan die verhaal van Moses en die rooi see wat geskei het om mense deur te laat.
Die pad het begin verskyn en mense het nie op hul laat wag nie
Mense wat vanaf Modo begin oorstap
Wat dit so spesiaal maak is dat dit slegs twee maal per jaar gebeur en saam met die eerste keer in Mei word ‘n groot fees gehou. Baie mens word ook gelok deur die tradisionele feesvieringe wat plaasvind soos bv. Ssitgimgut (‘n shamanistiese ritueel om jou siel te suiwer), Dasiraegi (om mense wat familielede aan die dood afgestaan het te troos), Bungnori (tradisionele, ritmiese musiek wat met 2 stokke gespeel word) en Sopogeolgun Nongak (liedere gesing deur soldate wat tydens die Imjin oorlog die vyand se kampe moes uitsnuffel). Wat dit interessant maak is dat almal aan hierdie tradisionele praktyke kan deelneem, of jy nou Koreaans is of nie.
Jindo bied soveel meer as net die pad deur die see. Daar is ongelooflik baie historiese gebiede en allerhande goed eie aan Jindo, soos die bruin kelp wat hulle uithaal en droog ens. Die Jindo hond is ook ‘n unieke spesie (moet my nie vra hoekom nie) en is wereldwyd gesog as troeteldier. Die tyd was egter net te min om enige iets anders te doen of te sien. ‘n Naweek is heeltemal te kort aangesien dit so ver is.
Dan nou vir die storie agter die storie van ouma…
Daar word vertel dat die skip van ‘n krimineel, verban na Jeju, en sy bemanning gesink het by Hoedong tydens ‘n woeste storm. Die mense was nie lank gevestig in die dorpie voordat hulle stuk-stuk begin vlug het vir die tiere wat hulle so aangeval het nie. Hulle het almal gevlug na die naaste eiland, maar ene ouma Pong het agtergebly, omdat sy nie sterk genoeg was om so ver te swem nie. Ouma Pong het dag en nag gewens om weer by haar familie te wees en het getrou gebede gerig aan die seekoning en gesmeek vir ‘n uitweg. Op ‘n dag het haar wens waar geword en het ‘n pad in die see tevoorskyn gekom. Mense het vanaf Modo eiland begin hardloop en op ‘n “dong” geslaan om die ou vrou te soek. Die hartseer om vir so lank sonder haar familie te wees, het egter sy tol ge-eis en is ouma Pong kort na die hereniging dood, maar sy kon in vrede sterf want sy het haar familie weer gesien. Hoedong beteken letterlik “village of return”.
Daar is ‘n reuse beeld van ouma Pong en ‘n tier opgerig in Hoedong en aan die anderkant op Modo eiland is ‘n standbeeld van haar familie.
Die titel het toe niks met enige reuke uit te waai nie 😉
Elk geval, in Jindo aangekom na ‘n helse lang dag op die bus het ons rondgeskarrel opsoek na die rubberskoene wat almal aanhet. Met my geluk was dit mos nou weer so ver moontlik van die aksie af! Daar was ook net een grootte beskikbaar en ja, dit was bietjie te klein, maar ek is daar in met ‘n moviese gesukkel! Die stappie op die seebodem so na die ander eiland was heel ontspannend en oral was mense besig om kos uit te grawe 😯 Van perlemoen, mossels en “scallops” tot seegras by die kilogramme.
Die tannie was nie meer lus vir loop toe die gety inkom nie
Die gety kom in met ‘n spoed
All in all ‘n goeie ervaring, maar dit was net te vinnig verby. Ek het letterlik net tyd gehad om die walk te walk en toe moes ek weer die laaste bus uit, vang Gwangju toe. Daar was GEEN slaapplek meer in Jindo…so trip maak mens klaar en daai Maandag was ekstra blou.
Se jou se