28
Jan
10

Hoekom dit ‘n “visa run” genoem word.

Op die stadium maal daar soveel gedagtes in my kop rond dat dit moeilik is om my storie te begin, en as ek by die heel begin moet begin sal ek ‘n boek kan skryf…

Ek gaan nou nie die hele storie hier oorvertel nie, maar ek het genoem in my vorige inskrywing dat ek alweer by ‘n nuwe skool en in ‘n nuwe stad is. Dit het nie gebeur omdat ek dit so wou gehad het nie, maar eerder omdat die vorige skool my daartoe gedryf het en hopelik sal daar met hulle ook afgereken word. So gebeur dit dat ek daar weg is en begin by ‘n nuwe plek, maar een probleempie… My visa verval die 14e Des 2009 en dis toe nie so ernstig nie, want met ‘n vlug in my hand om na Japan te gaan die 28e kon ek toe die visa met 30 dae verleng.

Grap van die saak is ek wag toe nog vir polisieklaring om van SA af gestuur te word, want daarsonder kan jy nie vir ‘n visanommer aansoek doen, waarsonder jy nie ‘n visa vir Korea kan kry nie. So word daar gewag en gewag en gebel en geskel ens. Op die ou einde moes ek die vlug en hotel kanselleer en hoop en bid die stukkie papier kom by my uit voor die 13e Januarie. So kom dit toe vroeg in die nuwejaar hier aangesit en kon my nuwe baas aansoek doen vir die visanommer, maar dit vat ‘n week op sy eie. Intussen poep ek al bietjies in my broek, want ek sien al hoe ek die land uitgegooi word en moet terug SA toe en agv die vorige skool kan ek dit nie bekostig nie.

Die Vrydagaand voor my visa verval bel die baas my en se hy het die nommer gekry en ons moet die Maandag ‘n vlug gaan bespreek en dan dadelik immigrasie toe om weer die visa te verleng net om dinge teen ‘n gemakliker pas te kan doen.

Die groot ding van Japan toe gaan om die visa te kry is dat jy ‘n visa vir Japan ook moet he en as jy daai groen paspoortjie het is jou kak geboek! Ek onthou nog van ons vakansie na Japan watse drama dit was.

Maandag gaan ons vroeg reisagent toe en oepsie, sorry julle, daar is nie vlugte beskikbaar nie so jy sal maar die Beetle bootjie moet vat! My moed sak in my skoene, maar dit kan seker nie so sleg wees nie en dis net 3ure voor jy voet aan wal sit. So bespreek ons toe die boot vir die 14e Januarie (Donderdag), want ons gaan mos nou my visa wat Woensdag verval verleng en dan is daar genoeg tyd vir die Japannese visa. Ek voel toe weer beter.

Van daar af skiet ons deur na die immigrasie kantoor toe, net om te hoor ek kan nie die visa langer as 30 dae verleng nie en ek het dit reeds gedoen. Ek kan nie eers begin om te beskryf wat deur my kop gegaan het nie. Die dame se toe dat dit nie die einde van die wereld sal wees as ek wel eers die Donderdag die land verlaat nie, maar ek loop dan die risiko om ‘n visa geweier te word en die vet weet ek wil nie in Japan sit en dan gebeur dit en dan moet ek SA toe met al my goed in Korea nie.

So het die baas die reisagent gebel en die tye verander en rondgeskuif sodat ek Wo kan vertrek, maar ek kon eers Woensdagmiddag vertrek, want ek moes nog die Japannese visa ook kry. Dus moes ek 3 dae Japan toe ipv 2 dae, want die aansoeke vir Koreaanse visas kan net in die oggend gedoen word.

Dinsdagoggend is ek toe vroeg per boot Busan toe met ‘n magdom dokumente om die verdomde Japannese visa te kry vir Woensdag. Van die boot af, gehardloop na die subway stasie, op die trein geklim, 2 stoppe later afgeklim en gehardloop na die konsulaat, want die visakantoor maak oor ‘n halfuur toe. Ek pak toe al die dokumente uit en stuur dit deur die gleuf in die glas net om te hoor hulle aanvaar nie die visanommer nie, want dit moet die oorspronklike dokument wees. Nou vra ek jou, hoe kry jy dit as die nommer per sms na jou gestuur word??? Gelukkig se die ongeskikte antie sy sal die aansoek deurstuur, maar ek moet die oorspronklike dokument faks en die volgende dag saambring as ek die visa kom afhaal. VERLIGTING spoel oor my.

So hardloop ek weer terug stasie toe, vang die trein, hardloop vir die boot, want ek moet terug immigrasiekantore toe en ek moet nog op een of ander manier probeer betyds wees vir klas! By immigrasie weet hulle nie waarvan ek praat nie en ek se toe net hulle moet die Japannese bel en vra, want ek weet ook nie wat hulle soek nie en raai wat? Daai lot is toe met middagete en my baas raak bemoerd want ek mis toe al my eerste klas en ons is reeds ‘n onderwyser kort.

Na 10 min se gewag, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kon ek gelukkig die stukkie papier kry en met ‘n taxi terug jaag skool toe en dit faks. All is well again…

Al wat toe nog voorle is om Woensdagoggend die visa te gaan haal en geld te ruil en om op daai boot te klim Japan toe. Ek is halfpad daar…

Woensdagoggend het ek maar swaar opgestaan en moes die eerste boot vat, sodat ek vroeg die visa kon afhaal. Ek moes nog immers iewers geld ruil en ek het gemik om die vroeer boot te probeer kry, sodat ek die aansoek in Japan nog Woensdag kon indien en verder ontspan na al die op en af en heen en weer hardlopery!

So, kry ek toe die visa vir Japan lekker vroeg, ruil my geld, wat toe verander in Japannese kleingeldjies so min is dit en mik vir die internasionale terminaal. Ek was half 11 daar en vra toe uit na die 12 uur boot en toe word daar vir my gese daar is nie meer ‘n 12 uur boot soos op die skedule aangedui nie! So moes ek toe daar rondhang tot ek 2 uur kon vertrek en daar is minder as niks om te doen en om buite rond te loop was nie ‘n opsie in -8 C nie! Dit was blerrie koud daai dag, ek het nie eers kans gesien vir rook nie!

Gelukkig was daar rekenaars gekoppel aan die internet en kon ek verder die kaart van my bestemming uitfigure. Die tyd het gevlieg en toe ek weer sien moes ons deur die hekke en al die dinge doen soos op ‘n lughawe en 2 uur was ons oppad na Fukuoka… (vervolg)

Advertisements

20 Responses to “Hoekom dit ‘n “visa run” genoem word.”


  1. Januarie 28, 2010 om 10:09 nm

    Hier by ons was daar natuurlik ook ‘n visa-run as jou tydelike visa verval het, maar dit is nou stopgesit en jy moet vir ‘n hele maand uit die land gaan voordat jy weer kan inkom. Red tape, frustrasie en al daai dinge. My arme aanstaande skoondogter moes om die rede binne ‘n dag nou terugvlieg twee maande voor haar troue ;-(. Glo my ek het simpatie.

  2. Januarie 28, 2010 om 10:23 nm

    Ek dink ek is van die min mense wat GENUINE simpatie met jou het! Dis ‘n absolute nagmerrie, hierdie visum/werkspermit-storie. En ek kan goed glo daar is ‘n vervolg op hierdie storie – is daar nie altyd nie? 😯

  3. Januarie 28, 2010 om 10:37 nm

    Ek was gedaan na die hele affere, maar dit het gelukkig nie sleg ge-eindig nie.

  4. Januarie 28, 2010 om 10:50 nm

    Hemel! Wat ‘n bakboord-na-stuurboord ervaring. Het ek al genoem dat ek enige vorm van burokrasie absoluut HAAT! Bly jy’t kop gehou en is nou weer “wettig”.

  5. Januarie 29, 2010 om 12:17 vm

    Die ervaring is nie juis iets wat mens eintlik kan oorvertel nie en ek wil ook nie meer daaroor vertel nie, want ek wil dit eintlik net vergeet! Dit was regtig onaangenaam gewees en dit alles oor ek die “verkeerde” paspoort het…

  6. Januarie 29, 2010 om 2:01 vm

    Is daai beamptes nie omkoopbaar nie? 😆

  7. Januarie 29, 2010 om 10:43 nm

    Dit klink vir my na heeltemal te veel stress vir een mens.
    Ek moes my troudatum met ‘n hele Maand vervroeg om wettig in London te kon bly.
    Al die reels en maniere om te bly waar jy is laat my altyd senuweeagtig. Ek is tot vandag toe nogsteeds nie lief vir papierwerk en “puppy eyes” smeek by klein glas hokkies nie.

  8. Februarie 1, 2010 om 2:40 vm

    Jooooeeeeewweeeee! Lekker besig daai kant! 😛

  9. Februarie 2, 2010 om 9:29 nm

    Genugtig. Geen wonder jy was so uitgeput nie!!

  10. Februarie 5, 2010 om 2:34 vm

    My senuwees sou dit wragtag nie gehou het nie!

  11. Februarie 6, 2010 om 1:24 vm

    Dit lyk my alle lande volg maar dieselfde belaglike proses met dieselfde red tape. Innige simpatie. Ek’s so bly ek reis nou met ‘n blou boekie ipv ‘n groene. Sederdien het ek nog nooit nodig gehad om aansoek te doen vir ‘n visa nie.

  12. Februarie 13, 2010 om 12:49 vm

    Jy het meer geduld as ek, wragtig, die klink na ‘n tantrum recipe vir iemand soos ek. Ek wag vir die vervolg..

  13. Februarie 24, 2010 om 6:19 nm

    Ag nee. Ek en my vrou moes ook die visa run doen hier in die UAE. Dit is flippen pyn in die gat.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s


Kalender

Januarie 2010
M D W T V S S
« Des   Mar »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Wie’s hier…

counter

Van waar gehasie?

Waar is wat?

Flickr Kiekies

DSCF1460

DSCF1458

Yeosu 3 Okt 253

Yeosu 3 Okt 251

More Photos

waarnatoe volgende...

  • Geen

Blog Statistieke

  • 44,299 houe
Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Bladsye


%d bloggers like this: