26
Okt
11

Een jaar

Dis vandag ‘n jaar terug wat ek my geliefde tydelike tuiste en sy mense moes groet, asook ‘n deel van myself.
Om te groet is nooit maklik nie, selfs al weet jy dat dit soms net tydelik is. Dan is daar die kere wat jy groet met die onsekerheid of jy dit wat jy groet ooit weer sal sien. Ek het Korea gegroet met die onsekerheid of ek ooit weer daar sal uitkom en selfs al gaan ek weer soontoe is daar steeds mense wat ek sekerlik nooit weer sal sien nie. Tyd staan vir niemand stil nie en ek kan skaars glo dat die jaar weer op sy kop is. Steeds hunker ek terug na ‘n tyd waar die lewe ongekompliseerd was en waar alles soveel eenvoudiger was. Die lewe in Korea is beskermd en die oomblik wat jy in SA land word jy teruggeruk na die harde en baie werklike realiteit, jou realiteit. Niks is meer eenvoudig en maklik nie. Alles is ‘n mission en gou kry jy jouself waar jy letterlik alles met jou vorige tuiste vergelyk. Ek doen dit steeds en probeer om dit meestal vir myself te hou. Ek is op die ou einde die een wat besluit het om terug te kom en alhoewel dit ‘n groot aanpassing is om terug te wees, doen ek OK. Ek moet net byse “reverse culture shock” is die grootste “understatement” wat enige een kan maak na so lang tyd in die buiteland, veral as jy in ‘n land gebly het waar alles so anders is as waar jy grootgeword het. Die vreemdste is egter hoe gou daardie vreemde land en sy vreemde tradisies deel word van jou en jy deel word daarvan, asof jy daar hoort. Ek is “homesick” en daar is meer redes daarvoor as wat ek kan neerskryf.
My laaste week in Korea was ‘n week om by plekke uit te kom waar ek nog nie was nie en om plekke te groet wat my na aan die hart le. Steeds voel dit asof ek nie genoeg gedoen het om ordentlik afskeid te neem nie, asof daar nog so baie is om te se en te doen, soos ‘n half geleesde boek wat al maande op die boekrak staan en jy wil dit klaar lees, want die storie is goed, maar jy weet as jy dit klaarmaak maak jy die boek toe. Korea sal gelukkig altyd daar wees, die storie sal ek altyd in my hart saamdra en ek sal altyd foto’s he om die goeie tye te herleef. Ja, Korea sal altyd daar wees, maar dit sal nooit weer dieselfde wees nie, ek sal nooit weer dieselfde wees nie.
Die afgelope jaar het verbygesnel en daar het so baie dinge gebeur sedert ek terug is in die Suidland. BAIE opdraendes, hartseer, seerkry, moedeloos wees, wegholdae, ensovoorts ensovoorts, maar die goeie tye die afgelope jaar is iets waaraan ek veel eerder vashou as al die sleg. Ek wou soveelkeer iets hier kom neerplak, maar as ek weer sien dan is nog ‘n dag verby en is die lus om dit te doen ook daarmee heen. Daar is so baie wat ek nog kan skryf en vertel, selfs oor ervaringe en reise terwyl ek nog n Korea was…ek was daai tyd net te lui. Ek het die afgelope jaar die geleentheid gehad om twee ander lande te besoek, waarvan een in diep, donker Afrika was en die ander strek oor twee kontinente. Ek sal nog my gedagtes en foto’s rondom dit uitsorteer en kom wys en vertel, maar vir nou is ek net.

Advertisements

13 Responses to “Een jaar”


  1. 1 turksvy
    Oktober 26, 2011 om 7:38 vm

    Ek verstaan maar alte goed. Mense dink daai homesickness is sommer lawwigheid, maar dis soos om te treur oor iemand wat dood is. Later forseer jy jouself om nie meer daaraan te dink nie…net sodat daar darem ‘n rofie op die seerplek kom. Vir my is dit amper 2 jaar, en ek’s bevrees daar is nog nie ‘n rofie van enige aard nie. 😉

    Strongs, ou suster!

  2. 3 Son
    Oktober 26, 2011 om 11:00 nm

    Ai Kaalvoet. Mis jou. Wens jy was nader. Ek kan nie glo dis al weer ‘n jaar verby nie 😯

  3. Oktober 27, 2011 om 5:43 nm

    Ai Kaalvoeters, wens ek kon dit op ‘n manier vir jou makliker maak. Kom kuier maar by my hier in die berge sodra jy ‘n paar daggies tot jou beskikking het. ♥♥♥

  4. Oktober 27, 2011 om 7:44 nm

    Het jy daai foudie geneem? Is pragtig. Goed om te sien jy skryf weer. Ek dink jy beskryf die gevoel van dualisme wat mens beleef baie goed. Veral daardie vergelyking van lande. Moeilik om daarvan weg te kom…Sal baie graag wil lees van jou reis-ervaringe. Veral van donker Afrika!

  5. 8 kyker
    Oktober 28, 2011 om 4:03 vm

    Ai tog Kaalvoetjies. Dit klink asof jy tans soos ‘n onwelkome gas voel in jou geboorteland. Ek hoop jy sien darem soms, ten spyte van al die land se moeilike dinge, ook weer die mooi van Suid Afrika om jou raak, net soos in al jou pragtige foto’s en vertellinge van Korea.

    • Oktober 28, 2011 om 3:41 nm

      Dis glad nie dat ek nie die mooi in SA sien of waardeer nie en elke land het maar sy voor-en nadele. Dis net moeilik om gewoond te raak aan die middelmatigheid wat hier aan die orde van die dag is. Dit maak my moeg!

  6. Oktober 28, 2011 om 3:02 nm

    Ek twyfel of ek ooit met soveel verlange sal kan terug dink aan Engeland, as ek ooit sou kon wegkom hier.
    Ek keen die Britte se nonsens net so goed as Suid-Afrikaners s’n. Daar is sekere goed wat ek sal mis, maar die meeste vriendskappe is verbygaande – want hulle is weer terug na die lande waar hulle vandaan gekom het.

    Op die ou end word jy maklik maar ‘n ontwortelde wat nêrens hoort nie – dalk selfs nie in SA nie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s


Kalender

Oktober 2011
M D W T V S S
« Sep   Nov »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

Wie’s hier…

counter

Van waar gehasie?

Waar is wat?

Waarvan julle hou

Flickr Kiekies

waarnatoe volgende...

  • Geen

Blog Statistieke

  • 44,631 houe
Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Bladsye


%d bloggers like this: