Met die opkomende somervakansie het my director ons geskiet vir ete. Sy sou aanvanklik saamgegaan het maar op die ou einde het sy net haar betroubare plastiekvriend saamgestuur om die rekening te betaal.
Natuurlik is ons na ‘n tradisionele Koreaanse restaurant, waar ek weer gesidder het aan die blote gedagte van enige vreemde rou gediertes wat opgedis mag word.
Gelukkig was dit weereens ‘n baie lekker en aangename, “platvloerse” ervaring. Om die hele aand so kruisbene aan tafel te sit is nie baie gemaklik nie, maar in Rome maak jy soos die Romeine!
Soos oudergewoonte het die klomp bordjies en bakkies met bykosse aangevlieg gekom op silwer skinkborde. Die meerderheid weereens bloedrooi gedokter so ek het dit ‘n mis gegee. Daar was darem ander disse wat ek wel kon eet. Die “hoofgereg” was weer ‘n lekker vleisie op die Koreaanse kole en mens roep hom by die naam “Galbi” of dan gemarineerde varkribbetjie. Saam met die vleisie het ons darem ‘n paar prawns ook gekry en dan ook ‘n stuk varkvel wat gebraai moes word. Dit het ek verseker nie ge-eet nie!
In die kommentaar van my vorige inskrywing is ek aangese om my kulinere horisonne te verbreed (anders kan ek nie gaan Noraebang nie), so hier volg dit nou en ek hoop regtig dit was genoeg 😉
Die enigste bykos, wat my altyd so bietjie dwars in die krop steek is die sywurmpapies of “pondegi” soos hulle dit hier noem. Die vorige keer wat ek by die spesifieke restaurant was was dit ook een van die bykosse. Ek was nuuskierig oor die smaak maar het dit maar ter wille van myself en my geselskap nie probeer nie.
Hierdie keer was dit anders…
Ek het die outjies goed bestudeer en uitgekyk en besluit om dit tog te probeer. Ek het lank gewik en geweeg, maar uiteindelik het die papie sy weg na my mond gevind. Ek moet net byse dat ek natuurlik iets om te drink en iets lekkerder om te eet byderhand gehou het, net in geval ek probleme ondervind om die dingetjie af te sluk 😉
So, die enkele papie is in my mond en ek weet nie regtig wat om daarmee te doen nie en was dadelik spyt oor my besluit om dit te probeer. Wel, om dit heel in te sluk tel seker nie regtig as “ek het dit ge-eet nie” en toe volg die volgende brawe stap. Ek skuif die kalant stadig en versigtig met my tong tot tussen my kiestande in en begin kou. Dit kraak onder my tande soos ‘n insek wat nader kennis maak met die sool van ‘n skoen. “Crunchy exterior, but soft and mooshy on the inside” Dis toe ook nou net hier waar ek beluit die ding moet nou afgesluk word voor die varkvleisies weer kom hallo se. ‘n Groot sluk lemonade om die stukkies soos ‘n hand vol pille afgesluk te kry en sommer ‘n groot hap vleis in blare toegedraai met knoffel en uie daarby.
Nou wil julle seker weet hoe dit proe…wel, dit is nie te sleg nie. Vir een; dit het vir my so effense neutgeur, maar proe soos iets vars uit die see, maar met ‘n melerige tekstuur, so half styselagtig soos mielies of die rys wat mens hier kry.
Al wat ek weet is dat ek dit nie weer doen nie…dis nie die smaak wat my afsit nie, maar die hele idee dat ek ‘n gogga eet!!!
Op ‘n ander, minder maagdraaiende noot…
Geniet julle week, want ek is op my somer vakansie!!! Ek weet nie waarheen ek oral gaan en wat ek als gaan sien nie, maar ek vertel julle as ek terug is. Die keer gaan ek waar die pad my vat of dan nou die eerste beste bus 😆
Se jou se