Ek was baie bevoorreg om die afgelope naweek ‘n uitstalling van Vincent Van Gogh te kon beleef in Seoul. Daar was 67 van sy oorspronklike werke, uit verskillende periodes in sy lewe, ten toon gestel, wat dan ook talle sketse ingesluit het.
Dit was ‘n lang gewag om by die museum te kon ingaan, maar dit was meer as net die moeitewerd. Hordes mense het bymekaar gekom om die uitstalling te sien, aangesien dit die grootste Van Gogh uitstalling sedert 1990 is.
Die man het my nog altyd geinspireer en dit was wonderlik om sy werke van so naby te kon sien. Elke kwashaal en lyn met soveel sorg neergele om sy onderwerp vir ewig vas te vang. Sy werke is meer as 100 jaar oud en is in ‘n puik toestand. Dis iets wat ek nie werklik kan oorvertel nie, mens moet dit self ervaar.
Ek kon ongelukkig nie foto’s van sy werke neem nie, maar het natuurlik my “luck getry”, net om deur ‘n klein koreaan uitgeskel te word. Mens moet seker probeer???
Ek sal boekdele oor die man se geskiedenis kan neerskryf, maar het maar net ‘n baie kort oorsig hieronder weergegee, sodat ek niemand met die detail verveel nie. Ek sluit ‘n paar foto’s in van die werke wat ek gesien het.
Vincent van Gogh is gebore in Zundert, Nederland, as die seun van Anna Cornelia Carbentus en Theodorus van Gogh, ‘n Protestantse predikant. Later het sy suster hom as ‘n ernstige en introspektiewe kind beskryf.
Sy broer Theo was vier jaar jonger as hy, maar hulle was baie naby aan mekaar. Theo het dwarsdeur Vincent se lewe hom finansieel ondersteun. Die groot volume van hul briefwisseling is in 1914 gepubliseer.
Nadat hy aanvanklik vir ‘n kunsfirma gewerk het, wat hom eers na Londen, en toe na Parys verplaas het, het hy ‘n onderwysersassistent geword, en toe na Amsterdam teruggekeer om teologie te studeer.
‘n Jaar later, in 1878, het hy opgeskop, en toe ‘n lekepredikant geword in Belgie in ‘n arm myngemeenskap. Hy is na ses maande laat loop. Tydens hierdie tydperk het hy begin om houtskoolsketse te maak van die mense in sy omgewing.
The potato eaters (April 1885)
In 1880, op aandrang van sy broer, het hy voltyds begin skilder.
In 1881 het hy verlief geraak op sy weduwee-niggie Kee Vos, maar sy wou niks van hom weet nie. Later het hy ingetrek by ‘n straatvrou, Sien Hoornik, en haar kinders. Hy wou met haar trou, maar sy pa was streng hierteen gekant, en ook Theo het hom hiervan afgeraai. Hulle is later toe wel uitmekaar uit.
Aanvanklik het hy gekonsentreer op die skilder van arbeiders en plattelandse landskappe. Later het hy Japanese kuns ontdek, en ‘n paar skilderye in hierdie styl geverf.
The sower (1888)
In die lente van 1886 het Van Gogh saam met sy broer Theo in ‘n huis op Montmartre, te Parys, ingetrek. Hier het hy skilders soos Edgar Degas, Camille Pissarro, Emile Bernard, Henri de Toulouse-Lautrec en Paul Gauguin leer ken. Hy het deur hulle Impressionisme ontdek, en veral van puntillisme leer hou.
In 1888, verlaat hy Parys en trek na Arles, in Bouches-du-Rhone, Frankryk. Hy het baie van die landskap daar gehou, sy geel huis geverf en ander kunstenaars soontoe genooi. Net Paul Gauguin het daarop gereageer, en in ‘n gees van wedersydse bewondering het hulle ‘n rukkie saamgewerk. Toe hulle stry kry, het Van Gogh ‘n deel van sy linkeroor afgesny en dit aan ‘n straatvrou gegee. Op die tydstip het hy opgehou met kolletjies verf en begin om klein strepies te maak.
The yellow house (1888)
Hy het erg aan depressie begin ly, en hy is in 1889, op eie versoek, in die gestig te Saint Remy de Provence, Bouches-du-Rhone, Frankryk, opgeneem. Tydens sy verblyf het die hospitaal en die hospitaaltuin sy onderwerpe geword, en het sy strepies vir warrelinge plek gemaak.
Irises (1890)
In Mei 1890 het hy die hospitaal verlaat en die sorg van ‘n dokter, Paul Gachet, in Auvers-sur-Oise naby Parys, opgesoek. Dit het hom ook afstandsgewys nader aan sy broer, wat kort tevore getroud is, gebring. Gachet is deur Pissarro aanbeveel; hy het al heelwat kunstenaars behandel. Die enigste ets wat van Gogh ooit gemaak het, is van die melankoliese Gachet gedoen. Van Gogh se depressie het vererger, en op 27 Julie, op die ouderdom van 37 jaar, na ‘n sessie van intense skilderwerk, het hy homself in die borskas geskiet. Twee dae later is hy dood, met sy geliefde broer Theo aan sy sy. Theo het vertel dat sy laaste woorde was “La tristesse durera toujours” of “Treurigheid sal vir altyd duur”. Hy is in die begrafplaas van Auvers-sur-Oise begrawe; Theo sterf net ses maande later, nie in staat om oor die dood van sy broer te kom nie. Op sy vrou se versoek is Theo langs Vincent begrawe.
Van Gogh het net een van sy skilderye tydens sy leeftyd verkoop. Die Rooi Wingerd, geskilder in 1888, word tans vertoon in die Pushkinmuseum in Moskou, Rusland.
Vincent Willem van Gogh (30 Maart, 1853 – 29 Julie, 1890) word aanvaar as die beste Nederlandse skilder naas Rembrandt, alhoewel hy slegs een skildery tydens sy eie leeftyd verkoop het. Hy het al sy werk – ‘n indrukwekkende totaal van 900 skilderye en 1100 sketse – geproduseer gedurende ‘n periode van slegs die dekade voor sy selfmoord. Na sy dood, met behulp van die uitstalling van 71 van sy werke in Parys, op 17 Maart, 1901, het sy roem vinnig toegeneem.
Dan sluit ek hierdie inskrywing af met die volgende gedig wat Van Gogh se wese baie goed saamvat.
Jy het as ‘n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ‘n vlam verwring.
DJ Opperman
Se jou se