18
Sep
08

Ek hou begrafnis in Korea

Ek het so rukkie terug by die huis aangekom vanaf ‘n begrafnis. Dit was nou regtig bietjie vreemd vir my. Een van die onderwysers se pa is gister oorlede en toe word ek ook sommer aangese om by die begrafnis te wees.

Dis ‘n anderste grappie hoor. Eerstens moes ons almal ‘n aardige bedraggie opdok, om die familie te ondersteun in die betaling vir al die goeters. Ek weet wragtig nie hoekom ek daarby ingesleep is nie, want ek ken skaars die onderwyser, wat nog van haar pa of enige ander familielid.

Vanaand na skool is ons almal in ons swart pakkies (jy moet soos ‘n goth lyk) by die skool weg. Toe ek weer sien stop ons by ‘n hospitaal en dom ek vra: “Why are we at the hospital? I thought he died yesterday.” So vind ek toe uit dat die begrafnis sommer in die hospitaal se basement gehou word. My eerste gedagte was natuurlik iets in die lyn van ‘n snaakse ondergrondse affere. Af met die loopvlak, land ons op ‘n blink teelvloer en allerhande fancy en mooi goeters teen die mure. Dit het eerder na die voorportaal van ‘n deftige hotel gelyk.

Ons stap nog so ent aan en die antiklimaks van lae plastiek tafeltjies, oorgetrek met wit plastiek, slaan my sommer so tussen die oe. Oral sit mense gesellig op die vloer en kuier om die kospotte. ‘n Restaurant by ‘n begrafnis???!!! WTF?

Elk geval, om die hoek is ‘n groot vertrek waar ‘n “shrine” opgerig is met ‘n A3 foto van die oorledene en chrysante net waar jy kyk. Die blommerangskikkings is massief met 2 swart en wit linte wat daarvan af hang. Die een lint het ‘n boodskap op en die ander een se van wie af dit kom.

Op die tafel voor die foto is ‘n klomp eetgoed uitgepak in verskillende bordjies en houers. Van links na regs was daar wit ryskoekies, ‘n bak dadels, ‘n bak met goed wat ek nie ken nie, dan sulke halfgeskilde pere in een bak en appels in die volgende. Heel regs was ‘n heel waterlemoen wat se punt afgesny is. Ek het nie die vaagste benul wat die simboliek of idee agter dit is nie. Ek neem aan dis maar soos offers of iets in daai lyn.

Die naasbestaandes is in tradisionele swart rokke en pakke geklee met ‘n wit omboordsel om die kraag by die vrouens en ‘n swart en wit band om die linker bo-arm van die mans.

Vir die volgende stap maak jy maar soos die Fillistyne of is dit nou die Romeine? πŸ˜‰

Uit met die skoene en in ‘n ry langs mekaar ingeryg. Ek moes mos op die blerrie punt eindig. Toe ek weer sien word ek aangehuts om eerste te buig en ek het die storie net so aangestaar en gedink hier kom nou nonsens. Dank Vader dit was nie die “moer-op-die-vloer-neer” buig nie, want anders het ek dalk net begin lag. Net ‘n respekvolle buig van die hoof en toe is ek daar uit!

Dit het nie eers ‘n minuut gevat nie en toe word ons aangejaag na die restaurant toe waar ons neergeplak is op die vloer en allerhande kosse is aangedra. Van rys tot druiwe en rou vis en baie slegte vissop! Dan natuurlik, wat is ‘n Koreaanse geleentheid dan nou sonder sy bier en soju! Ek kon dit amper nie glo nie.

Ek moet se, dit was die jollieste begrafnis waarby ek nog was en niemand het eers ‘n traan gepik of hartseer gelyk nie. Dis glo hoe die storie maar verloop! Hoop net nie die spul kry dronkverdriet nie…

Ek wens ek kon ‘n paar foto’s neem, maar ek was bang my begrafnis sal dan volgende op die lysie wees πŸ˜‰


20 Responses to “Ek hou begrafnis in Korea”


  1. September 18, 2008 om 9:56 nm

    Hi kaalvoet. Begrafnis van alle dinge. So jy het nou alles wat koreaans is ervaar. Dis interesant hoe jy die begrafnis verduidelik en om eerlik te wees klink die storie nie soos jou tipiese begrafnisse waaraan ons gewoont is nie. Ek is bly dat hulle jou nie te veel weird dinge laat doen het nie, dit sou n affere gewees het. Ek kan dink as jy jou flash perongeluk laat afgaan het sou dit n storie of twee veroorsaak het. Interesant hoe koreane respek betoon deur om te drink na die tyd, maar nou ja elke nasie en sy gewoontes.

  2. 2 jjoyy
    September 18, 2008 om 10:23 nm

    sjoe, interressant hoe mense koebaai se vir hulle mense. Ek was verstom toe ek die eerste keer in Engeland aangekom het en gesien het dat die mense pub toe gaan na ‘n begrafnis, toe het ek natuurlik nog nie geweet dat hulle pub toe gaan vir ALLES nie!

  3. September 18, 2008 om 11:46 nm

    kaalvoete: ek gaan die naweek ‘n koreaanse begrafnis hou…ek stuur ‘n kollektebakkie na jou kant toe sodat jy ‘n “aardige bedraggie” vir my ook kan insit. dankie baaaaaie.

    jinne ek het nou heerlik gelees aan jou beskrywing. eers dag ek julle gaan onder in die lykshuis by die hospitaal ‘n draai maak.

  4. September 19, 2008 om 12:03 vm

    O aarde! πŸ˜† Ek het nou lekker gegiggel! Ek dink ook jou flash sou jou begrafnis baie nader gebring het… πŸ˜‰

  5. September 19, 2008 om 12:09 vm

    eish…ek kom iets oor – is hoeka vol draadwerk oor kos πŸ˜†

  6. 6 Zee
    September 19, 2008 om 5:22 vm

    Jy sΓͺ die vissop was lekker πŸ™‚ **giggle** At least het jy darem ‘n ete gekry vir jou extreme donasie πŸ˜†

  7. September 19, 2008 om 3:19 nm

    Jy het nou al omtrent alles beleef! Ek reis altyd so lekker saam op jou blog – dankie vir die lekker lees. Het jy al jou vlug bespreek? πŸ™‚

  8. 8 BB
    September 19, 2008 om 3:20 nm

    LOL!! Jy besef natuurlik dat jy heeltyd besig is om seriously awesome memories op te gaar, nΓͺ?!
    Man, ek laaiks jou blog BAAAAIIIEEE!!!

  9. September 19, 2008 om 4:44 nm

    Dankie vir die beskrywing. Dis was snaaks en interessant.

    Laat my dink aan Hindoe-troues waar mens ook moet buig. Ek staan kiertsregop terwyl Dirk my in die ribbes bly pomp en sis: “Buig. Buig.” Wat weet ek waarvoor ek buig? O ja, en die groen chilli wat ek vir ‘n groenboontjie aangesien het. Het my maande gevat voor ek groenboontjies sonder heelwat agterdog kon bejeen.

  10. September 19, 2008 om 7:06 nm

    πŸ˜† Dit was nou ‘n lekker inskrywing. Hierdie begrafnis klink soos ‘n “groot-eet” partytjie.
    Lekker naweek! πŸ˜‰

  11. September 19, 2008 om 7:08 nm

    MJ ek sou veel eerder na ‘n troue toe wou gaan. Now I’ve seen the dark side…boo-hahaha πŸ‘Ώ
    JJoyy en Cebella: Welkom hier! Alle kuture het maar hul stuffies!
    Rosa, wat praat jy vrou? Ek sit g’n niks, nerens in ‘n kollekte bordjie nie πŸ˜‰ Ek het ook gedink ons is oppad om die lyk te kyk daar onder die hospitaal. Nie dat dit my sou pla nie.
    Boendoe ek was baie tempted om ‘n ou skelm foto’tjie te neem sonder die flash, maar ek was bang iemand slaan my oor die kop as hulle die kamera sien. Ek het darem ‘n gewete ook jy weet!
    Ja Zee dit was so uit die hel bestel! Ek het maar my bakkie rys en druiwe ge-eet en bier gedrink! Al daai rou en drillerige goed is nie vir my nie.
    Bly jy geniet dit Sonia. Never a dull moment in die plek en veral nie met my in die omtrek nie. Sulke goed gebeur altyd met my… Vliegtuigkaartjie??? Wat’s dit? Moet iets wees wat jy in die kombuis gebruik want ek ken nie van nie πŸ˜‰
    (Die skool vat hul tyd en my gat maak soos ‘n autistiese oester van stres)
    Ja nee, ek besef dit BB! Weet darem ook nie of ek als wil oorvertel nie, want ek sien al hoe mok my mense my! Jeez! Bly jy geniet dit πŸ˜‰
    Hehehe Nelba! Gelukkig eet ek nie groenbone nie, so ek reken ek is veilig! Laat my dink aan my pa wat my oortuig het ‘n murgpampoentjie in sy bord is ‘n agurkie! Ek vat nooit weer ‘n agurkie by hom nie!

  12. September 19, 2008 om 7:14 nm

    Dink ook die lot gaan groot Wip! Geniet jou naweek!

  13. September 19, 2008 om 7:34 nm

    Dit klink vir my dis hoe ‘n begrafnis moet wees! Niks suur gesigte nie, almal vier die lewe wat verby is. Of ek dit self sal kan regkry, is ‘n ander vraag… maar solank daar kos en bier is, is dit seker makliker! πŸ˜‰

  14. September 19, 2008 om 8:26 nm

    Kaalvoete, nee ek sien jy gee so maklik aardige bedraggies weg, toe dag ek, ek kom probeer my geluk. πŸ™‚
    1x kollektebordjie oppad na korea

  15. September 19, 2008 om 9:51 nm

    Min mense wat ‘n begrafnis so humoristies kan beskryf!

  16. September 19, 2008 om 11:16 nm

    Ja nee Dellie, ek dink die vloei van soju en bier maak dit makliker, maar vir hoe lank?
    Ek sien daai ding Rosa! As jy ‘n Koreaan was sou ek seker moes aanvul aan daai kollektebordjie, maar gelukkig is jy nie πŸ˜‰
    Jislaaik Bib, as jy dit maar net kon sien! Ek is seker jy sou ook gewonder het oor die storie!

  17. September 21, 2008 om 4:58 nm

    Baie interessante inskrywing, ek het dit vreeslik geniet.

  18. 18 netjane
    September 22, 2008 om 8:47 nm

    πŸ™‚ Ek lees tans my reisgids vir Japan en raak erg benoud oor al die moets en moenies wat ek nie verstaan nie! Jy doen baie goed as jy al saammet die locals begrafnis of is dit nou begrapnis hou!


  1. fun88 Terugskakeling op Des 14th, 2022 om 1:56 vm

Lewer kommentaar op netjane Kanselleer antwoord


Kalender

September 2008
M D W T V S S
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
2930  

Wie’s hier…

counter

Van waar gehasie?

Waar is wat?

waarnatoe volgende...

  • Geen

Blog Statistieke

  • 49 672 houe
Page copy protected against web site content infringement by Copyscape

Bladsye